'Slagveld' op R44
2009-01-22
Lise Beyers
“DIT was soos ’n slagveld.” Met skok en ongeloof uiter lede van die polisie en reddingsdienste steeds hierdie woorde, ná die gru-ongeluk verlede naweek op die R44 naby Wellington wat die lewens van 12 mense geëis het. “So iets het ek nog nooit vantevore gesien nie,” vertel ’n gesoute polisieman. Saterdagoggend om 08:30 was ’n rooi Ford bakkie vanaf Wellington onderweg na Porterville, toevallig om die as van ’n familielid te begrawe. Terselfdertyd was Albertus Erasmus en drie van sy kinders vanaf Pippie Langkous Kwekery, tussen Wellington en Hermon, na Wellington onderweg om inkopies te doen. Die noodlot het sowat 10 km buite Wellington getref, toe ’n band van die oorlaaide bakkie vermoedelik gebars het. Dit was skaars 3km van die afdraai na Pippie Langkous Kwekery. Die bestuurder van die bakkie het beheer oor die voertuig verloor, en reg van voor in Erasmus se Honda Ballade ingeploeg. Die bakkie het buite beheer getol en in ’n sloot beland, maar nie voordat die pad vol lyke gelaat is nie. Erasmus en sy kinders, Jacques Erasmus (16), Jason Baartman (13) en Celestine Baartman (18) is op slag dood, asook sewe passasiers van die bakkie. Nog ’n insittende van die bakkie is later in Paarl Hospitaal aan sy beserings dood. Reddingswerkers het meer as ’n uur gespook om erg verminkte lyke uit die wrakke te sny. Een van die beseerdes is vier maande swanger en verkeer in ’n ernstige toestand in die Paarl Hospitaal. Al die insittendes van die bakkie was van Kaapstad. Die weduwee van Erasmus, Johanna Baartman, is nou agtergelaat met slegs een van haar vier kinders, Andrewene Erasmus, asook haar dogter Celestine se 17 maande oue baba, Jasmyn. Die suigeling is steeds knaend op soek na haar ma, en kan nie verstaan hoekom sy nie huis toe kom nie. “Albertus en die drie kinders was Saterdagoggend oudergewoonte op pad dorp toe om kruideniersware te koop, asook die laaste paar goedjies vir Jacques en Jason se skool. “Toe ek kort na 09:00 die nuus kry van die ongeluk het ek amper ineengestort. Byna my hele gesin is uitgewis.” Jacques sou nou graad 11 begin het by Paarl Vaardigheidskool, en Jason graad 6 by Soetendal Primêr. Talle vrae word nou gevra oor die oorsaak van die ongeluk, en ’n ondersoek is ook geloods om die redes vas te stel. Volgens kenners was die klein Ford-bakkie heeltemal oorlaai met tien mense aan boord. “Hierdie bakkie is slegs gebou vir ses passasiers. “Dit het boonop die hele pad vanaf die Kaap tot verby Wellington gery - waar was die wetstoepassers? “Dit is verbasend dat die bakkie so ver gevorder het.” Die begrafnis van Erasmus en sy kinders vind Sondag om 14:00 plaas by die VGK Rawsonville. * Hierdie ongeluk het die dodetal op plaaslike paaie binne minder as ’n week op 18 gelaat, na gister se gru vragmotor ongeluk naby Franschhoek. Verlede Woensdagoggend is vier mense vroegoggend op die N1 naby die Hugenote-tolhek in ’n taxi-ongeluk dood. Vrydagnag is nog ’n persoon op die N1 dood toe ’n taxi gerol het oorkant Simonsvlei wynkelder. * Twelve people have died in a horror crash near Wellington.
More
News
|