Beskerm bates
2005-07-28
SUKKEL jy met urinering? Die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) moedig mans aan om gereeld hulle testikels te ondersoek vir knoppe en om ’n prostaattoets te laat doen as deel van mansgesondheidbewustheid.
Van puberteit tot 45-jarige ouderdom moet mans maandeliks hulle eie testikels ondersoek, verkieslik nadat hulle gebad of gestort het, vir knoppe (omtrent so groot soos ’n ertjie) wat testikulêre kanker kan aandui.
Mans ouer as 50 jaar behoort jaarliks ’n eenvoudige bloedtoets te laat doen vir prostaatkanker - die mees algemene kanker onder Suid-Afrikaanse mans.
As jou broer, oom of pa prostaatkanker het, beveel Kansa aan dat jy reeds vanaf 40-jarige ouderdom toetse ondergaan.
“Hoe vroeër die kanker opgespoor word, hoe beter die kanse op volkome herstel.”
Een uit elke 24 Suid-Afrikaanse mans sal prostaatkanker kry. Die Prostaat Spesifieke Antigeen (PSA) toets meet die proteïnvlakke wat deur die prostaatselle vervaardig word in die bloed en bepaal die waarskynlikheid van prostaatkanker.
Behandeling kan hormoon- of chemoterapie, bestraling of chirurgie behels.
Geneeshere kan ook ’n digitale rektale ondersoek doen om te bepaal of die prostaat knoppe het, of ongewoon in grootte of vorm is.
Die prostaatklier is naby die blaas geleë en produseer die semen wat sperm vervoer en voed.
Prostaatkanker ontwikkel wanneer abnormale selle vermenigvuldig en ’n knop of gewas in die prostaatklier vorm. As dit nie behandel word nie kan dit mettertyd na ander liggaamsdele versprei.
Vroeë gevaartekens sluit in as jy dit moeilik vind om te urineer; meer dikwels as gewoonlik moet urineer, veral snags; as dit moeilik is om te begin of op te hou urineer.
Laat simptome sluit in bloed in die urine; pyn of brandsensasie tydens blaaslediging; pyn in die laerug, bobene of heup area.
Vir meer inligting, skakel Kansa se tolvrye Inligtingsdiens by 0800 22 66 22 of met Mareé Lambrechts, Gesondheidsprogram Koördineerder, 876-3589 of e-pos mlambrechts@cansa.org.za
More
News
|