Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Skei die manne van die muise

Skei die manne van die muise
 
2009-01-22


DIE kreatiewe span agter die eerste vertoning van "Op die Vrou Af" het weereens kragte saamgespan om "Op die Vrou Af 2" te skep. Die verhoogstuk, propvol sjarme en met vlymskerp humor, word op 4, 5 en 7 Februarie by die Oude Libertas amfiteater aangebied.

Pedro Kruger en Jolette Odendaal is die sterre wat vir die lagbuie gaan sorg.

Pedro is bekend vir sy deelname aan Liriekeraai op kykNET en ook vir sy kabarette Blougat, Klein-Anna se Lament, Lyf en Pello.

Sy talent as akteur, komponis, sanger en storieverteller maak van hom tans een van die veelsydigste kunstenaars op Suid-Afrikaanse verhoë.

Vurige Odendaal het in 1994 die professionele musiekbedryf betree as lid van die bekende à capella-groep Cutt Glas. Sedertdien was sy ook saam met ander bekendes in verskeie gewilde verhoogproduksies en haar eerste solo-album Jolette het die lig gesien.

Die regie word behartig deur Hennie van Greunen, wat ook die teks verwerk het. Hennie is ’n bekroonde skrywer, regisseur en vervaardiger wat veral bekend is vir sy produksies Anna se engel, Breinbliksem, Festen en Shirley Valentyn.

André le Roux, die skrywer, se fyn waarneming van die kwinte en kwellinge tussen man en vrou maak hierdie produksie ’n komedie waarin jy jouself sal herken.

Sy spitsvondighede het al diep in die harte van vroue (én mans) gekruip, juis omdat dit so subtiel die draak steek met albei geslagte.

Hy hoor gereeld: “Dit voel of jy by ons in die huis woon, hoe anders beskryf jy alles so raak?”

G’n wonder nie – Op die vrou af 2 is ’n produksie waarin man en vrou in die gehoor mekaar deurentyd in die ribbes pomp met ’n: “Dis jy daai!”

“Dis veral die humor in André se rubrieke waarmee die lesers identifiseer en wat ons graag na gehore wil bring,” sê Sarie-redakteur, Michélle van Breda.

Doen besprekings by Computicket (Checkers) of die Oude Libertas kaartjiekantoor by 021-809-7473/021-809-7380 of besoek www.oudelibertasamphitheatre.co.za.

Kaartjies verkoop vir R90/R100/R110 en die vertoning begin om 20:15.




More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za