DIE viering van die Suid-Afrikaanse wynbedryf se 350ste bestaansjaar op 2 Februarie, bied ’n unieke geleentheid vir die bedryf om sy posisie te verstewig as een van die Nuwe Wêreld se oudste wynlande, asook om sy diverse en kleurryke wyntradisie te vier.
Volgens Ina Basson, bemarkingsbestuurder van
Boschendal (een van die land se oudste wynlandgoedere), moet die bemarkingsimpak van ’n wynproduserende land se kultuur en erfenis nie onderskat word nie.
“Ondanks die dinamiese aard van vandag se globale wynbedryf, is die intrinsieke waarde van ’n wynproduserende land geleë in die toewyding om kwaliteitswyne voort
te bring wat uit sy waarneembare kultuurerfenis blyk,” sê Basson.
“Vanjaar vier die hele bedryf 350 jaar van wynmaak in Suid-Afrika, wat ons bedryf die tweede oudste in die Nuwe Wêreld maak ná Mexiko.
“Australië, wat as die leier
van die Nuwe Wêreld wynbedrywe beskou word, het sy eerste wingerdstokke eers in 1788 vanaf die Kaap ingevoer – meer as ’n eeu nadat ’n aantal Suid-Afrikaanse wynlandgoedere soos Boschendal reeds gevestig is!
“Hierdie 350ste herdenking van wynmaak in Suid-Afrika kan die persepsie van ons erfenis en geskiedkundige rekord by plaaslike en internasionale verbruikers versterk.
“Met so ’n diverse en kleurvolle wynbedryf wat oor drie-en-’n half eeue strek en deur ’n verskeidenheid mense en kulture tot stand gebring is, het die bedryf ’n fassinerende storie om te vertel, en hierdie is die jaar om dit waarlik oor te dra.”
As een van die land se oudste wynlandgoedere, het Boschendal die waarde van kulturele bemarking ondervind.
“Die meer as 180 000 plaaslike en internasionale besoekers wat jaarliks deur ons hekke kom, word gelok nie slegs deur die wynproe-ondervinding nie, maar ook deur die unieke kultuur wat daarmee gepaardgaan soos die ou plaasgeboue, eikebome en erfenis - dit maak dit ’n besondere verkoopspunt.
“Hopelik sal vanjaar se vieringe van 350 jaar van Kaapse wynmaak die bedryf die geleentheid bied om homself pro-aktief daar te stel as ’n goedgevestigde wynproduserende land en nie slegs ’n nuweling in die Nuwe Wêreld nie.”
In die loop van die jaar sal Boschendal ’n reeks etes en lesings aanbied waar die klem op die geskiedkundige belang van die Suid-Afrikaanse wynbedryf sal val.