DIE wêreld word nou as’t ware deur tegnologie beheer. En ons kinders word van kleins af hiermee groot.
Dus is dit seker die eerste keer in die geskiedenis dat kinders hul ouers oor iets kan touwys maak.
In my huis word een van my kinders dikwels nadergeroep om te help met ’n tegnologiese oplossing.
Of dit nou ’n selfoon- of rekenaarprobleem is, hulle druk vinnig ’n paar knoppies en los die probleem summier op.
Ook oupa en ouma, wat so effe rekenaarvaardig is, roep kort-kort vir een van hulle om te kom help.
Dan is dit ’n foto wat nie wil oop- maak nie, of oupa wat met ‘facebook’ sukkel, en selfs ouma met haar digitale kamera.
Volgens vandag se jeug kan hulle nie glo dat daar wel ’n lewe was voor rekenaars en selfone nie.
Dit laat my terugdink aan my vroeër dae as fotograaf by ’n groot koerant.
Daar moes teen ’n geweldige spoed kantoor toe gejaag word om films met die hand te ontwikkel en dan nog afdrukke te maak voor spertyd.
En as ons ver van die kantoor af was, moes die naaste lughawe gesoek word om films na die stad te vlieg.
Dan was daar later ’n apparaat wat aan ’n telefoon gekoppel kon word en ’n foto kon byna soos ’n faks kantoor toe gestuur word. Maar dit was ’n tydsame proses en die kwaliteit was nie baie goed nie.
Ons moes eers ’n hotelkamer in ’n donkerkamer omskep, die foto’s afdruk, en dan het ’n swart-en-wit foto so ’n halfuur geneem om te stuur, as daar geen onderbreking in die telefoonlyn was nie.
Digitale fotografie het dus die aangesig van fotografie heeltemal verander.
Nou kan ’n foto geneem word en binne minute dwarsoor die wêreld gestuur word met die hulp van ’n selfoon of skootrekenaar.
Om nie te praat nie van die internet wat die wêreld nou baie kleiner gemaak het en veroorsaak het dat mense meer as ooit te vore met mekaar kommunikeer.
Ek dink net aan die kinders se huiswerk. In my tyd is ure in die biblioteek spandeer om inligting in te win vir ’n projek.
Maar nou kan hulle dit tuis doen op die rekenaar, en binne ’n oogwink het hulle ’n myn van inligting.
Selfs ons troeteldiere baat by tegnologie met mikroskyfies wat ingeplant kan word om hulle te identifiseer.
En buurman vertel dat hy nou die dag lees dat ons self nie te ver weg is van mikroskyfies wat in mense ingeplant sal word nie.
Dan sal ons inligting, as ons binne ’n bank of lughawe, of enige hoë sekuriteitsomgewing beweeg, deur middel van ’n skandeerder gelees kan word.
Dit sal alles van ons vertel, selfs ons bloedgroep en bankbalans - ek hoop net nie ons gewig nie.
So kom ons al hoe nader aan die Big Brother sindroom, waaroor George Orwell destyds in sy bekende boek 1984 geskryf het.
Maar ek glo steeds dat hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde.
’n Mens het tog basiese behoeftes wat geen tegnologie kan vervang nie.
’n Seun hou nog daarvan om met ’n bal te speel, ’n jong meisie met ’n pop.
Ons is gaande oor braai en die hele primitiewe neiging van vuur aansteek kan nie vervang word deur ’n rekenaar nie.
Ook die teerheid van die menslike aanraking.
Dit is juis nou die dag deur my tienerdogter bewys, wat ’n slag ’n “regte” brief wou stuur.
Nie ’n brief getik op die rekenaar en per epos stuur nie, maar ’n regte brief, net soos wat ons in ons vry-dae gedoen het.
Sy neem toe ’n stuk papier en begin skryf. Sorgvuldig gaan sy dit na, voordat sy ’n titseltjie parfuum daarop spuit, dit netjies opvou en plaas in ’n koevert.
En toe dit klaar verseël is met die ontvanger se naam en adres daarop, is ons poskantoor toe, waar sy vir die eerste keer in haar lewe haar sente uithaal vir ’n posseël.
Ja, al is ons kinders tegnologiese reuse van die toekoms, wink die eenvoud van die verlede steeds vir hulle.