DIT is met trots dat Paarliete pronk met Giniel de Villiers se uitsonderlike prestasie.
As oud-Gimmie is hy een van ons, en sluit hy aan by die talle sporthelde wat hiér hul vastrapplek in die lewe gekry het.
Sy grootwordjare op ‘n Klein-Karooplaas naby Barrydale, met ondersteunende ouers, staan uiteraard ook sentraal tot sy vormingsjare.
Vanjaar se Dakar-wedren, wat as die uitmergelendste tot dusver beskou word, was weens veiligheidsredes vir die eerste keer in Suid-Amerika aangebied.
Waarom dan? Wat is fout met Afrika? Daar kan seer sekerlik niks met die grond verkeerd wees nie.
Dan moet die leemte of fout by die bewoners, die inwoners, van die kontinent lê.
Feit is: Waarom aanvaar almal Afrika se gebreke so gelate?
Dis makliker om ’n internasionale tydren te skuif, as vir internasionale agendskappe om aandag aan die konflikte in Afrika te gee.
Zimbabwe se gruwels is aan ons bekend – nogtans word daar weinig gedoen aan ’n despoot met ’n vrou wat die wêreld vol reis met ‘n volblywende beursie.
Suid-Afrika bly ook nie gespaar nie. Jaarliks word daar tot 22000 mense vermoor! Ons verkeer in ’n staat van oorlog met onsself. Beslis niks om oor trots te wees nie.
Ek onderneem elke aand na skemer ’n staptog vanaf die Strooidakkerk tot by die Toringkerk in die Paarlse Hoofstraat.
Die aantal hawelose mense, van alle ouderdomme, wat windverwaaid ’n slaapplekkie op andere se stoepe soek, is verstommend – met nuwes wat weekliks bykom.
Om ’n lewe te maak, tree hulle ook op as verkeersbeamptes - ’n lewensgevaarlike praktyk, wat goedsmoeds deur die owerheid aanvaar word.
Die vraag is: Waar is al die staatsdepartemente met hulle hordes amptenare en begrotings, ook die NGO’s, wat veronderstel is, en daarmee belas is, om sosiale programme vir diesulks aan te bied?
Êrens het iets beslis verkeerd geloop. Die goue draad wat die samelewing vashou, het nie slegs begin lostorring nie, dit het reeds plek-plek gebreek.
Die resultaat van die afgelope jare se politieke losbandigheid, kyk nou met honger oë na die paar van ons wat nog bereid is om ons daaglike brood op ’n eerbare manier te verdien.
Gelukkig is daar ’n verkiesing op hande. Benut u demokratiese reg.
Ronald Brand