NA ’n afwesigheid van 43 jaar is ek nou reeds ’n bietjie meer as ’n jaar terug in die Paarl; my tuisdorp. Wat het verander? Alles en tog niks!
Die Paarl het steeds die beste skole in die land. Interskole is nog steeds die grootste skole-rugbybelewenis in die wêreld. (Moeilik om te glo dat daar tog inwoners is wat “neutraal” is oor dié kragmeting).
Hoofstraat is nog steeds een van die langste hoofstrate in die land. Die akkerbome is duidelik in die winter van hul lewe, maar darem nog daar.
Die Palladium, Protea en inryteaters het verdwyn. Daar is nou huise hoër op teen Paarlberg.
Die baie spoedwalle is ’n nuwigheid. ’n Algemene spoedbeperking van 40 km per uur binne die munisipale gebied sou dalk beter wees. Lady Greystraat - liefs maar stilbly en sodoende die vrede bewaar.
Die strook tussen die rivier en Bergrivier Boulevard het geweldige potensiaal om ontwikkel te word as ontspannings- en natuurtuin. Baie sou bereid wees om te betaal vir die voorreg tot toegang. Net jammer dat so baie dit huidiglik besoek met ’n rol toiletpapier in die agtersak. Die aantal honde (selfs drie en meer) op relatief klein dorps-erwe is ook vreemd vir dié van ons wat werklik diereliefhebbers is - veral groot honde het ruimte nodig en beteken, tensy goed opgelei, boonop nie veel om misdaad te voorkom nie.