Belastingbetalergeld nou partytjiegeld? 2009-01-29
VERLEDE jaar het ek verskeie kere in die Paarl Post gelees en foto’s gesien van groot dinees wat deur die ANC stadsraad gereël is en oorsese reise wat afgelê is, sekerlik nie op eie onkoste nie - dit alles terwyl hier hordes honger en huislose mense in ons dorp is.
Dit gaan net so woes op nasionale vlak - volgens koerantberigte is R2,19 miljard deur die staat gedurende die afgelope boekjaar aan etes en hotelverblyf bestee. Die Departement van Vervoer het R84 miljoen aan soortgelyke uitgawes bestee.
Kort daarna lees ek oor ’n partytjie van R1 miljoen wat die Departement van Buitelandse Sake vir sy personeel gereël het “omdat hulle dit verdien het”. Toe ek en my man vir die staat gewerk het, moes almal maar self vir die personeelfunksies betaal.
Intussen het die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling beloof dat daar gedurende Kersfees en Nuwejaar geen honger mense in Suid-Afrika sou wees nie.
Jammer om te sê was dit juis gedurende hierdie tyd dat daar meer bedelaars en honger en verwaarloosde kinders as gewoonlik by ons huis ’n “broodjie” kom soek het.
Nou word daar in ’n nuusbrief van die Munisipaliteit gespog oor die “Waterfront” vir die Paarl.
Het die Paarl dit werklik nodig? Kon daardie geld nie baie beter aangewend word nie?
Wat van ons strate wat so van die slaggate besmet is dat dit hulle soos een met ’n “masel-uitslag” laat lyk?
Wat van die straatkinders en haweloses wat in ons geboue se deure, in parke en bosse slaap?
Hulle sal geensins baat by die beoogde projek nie, tensy daar by die geboue wat beplan word, ’n paar lekker skuilplekkies sou wees. Die wenners sal weer net ’n paar ryk beleggers wees.
Met die verkiesing op hande word daar weer vreeslik baie beloftes gemaak. Maar ná die verkiesing word dit netjies vergeet en die hongeres, die huis- en werkloses is steeds in dieselfde bootjie as voorheen.
En daar sal sekerlik weer belastingbetalers se geld op deftige dinees vir bevoorregtes en ander onnodighede verkwis word.
Intussen kan ons gewone mense maar net hoop dat belangrike sake vanjaar voorkeur bo partytjies en reise sal kry.Ansie Borman