Boschenmeer se balle pla
2009-01-29
’n PAARTJIE van Somerset-Wes is die duiwel in, nadat ’n gholfbal wat by Boschenmeer gholfbaan die pad byster geraak het, hul motor getref het. Hulle het op 2 Januarie verby die gholf-landgoed gery in die rigting van Franschhoek, toe die bal skielik die masjienkap van hul motor tref, opspring en die voorruit beskadig. En die skade was nie juis gering nie - dit het vir hulle byna R4000 uit die sak gejaag. Nou klop hulle aan die deur van die gholfklub om vergoeding. Die bestuurder van die gholfbaan, Ludwig Vercuil, het gesê dat hy die voorval betreur, maar dat die gholfbaan nie verantwoordelik gehou kan word vir sulke voorvalle nie. “Die persoon wat die bal verkeerdelik geslaan het, is die sondebok, en niemand kan so ’n eis teen die gholfklub lê nie.” Hy het egter bygevoeg dat hy wel dié voorval by hierdie naweek se bestuursvergadering ter tafel sal lê, om te sien of daar nie ’n middeweg gevind kan word nie. * A stray golf ball from Boschenmeer has damaged a passing car.
More
News
|