Leer meer oor kanker
2005-07-28
DIE Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) beskik oor ’n groep opgeleide gesondheidsbevordering vrywilligers wat beskikbaar is vir die aanbieding van praatjies omtrent die voorkoming en vroeë opsporing van kanker.
Hierdie vrywilligers lewer ’n gratis diens en kan oor die volgende onderwerpe praatjies aanbied: * Wat is kanker? * Die waarskuwingstekens van kanker * Dieet en kanker * Velkanker * Testikulêre kanker * Prostaatkanker * Borskanker * Servikale kanker * Die gesondheidsgevare van tabakprodukte.
Indien u belang stel in inligting, skakel die Kansa-kantoor by 876-3589.
Ondersteuning vir borskankerpasiënte
Reik na Herstel is ’n ondersteuningsgroep wat fokus op die ondersteuning van borschirurgie-pasiënte.
Hierdie groep vrywilligers het almal self borschirurgie gehad en besoek pasiënte pre- en post-operatief in die hospitaal.
Borsprosteses word ook teen baie billike pryse deur hierdie groep verkoop aan pasiënte wat ’n mastektomie ondergaan het.
Vir meer besonderhede, skakel Hanlie Vergotini by 864-3725, na ure.
Emosionele ondersteuning
Die pasiëntediens vrywilligers lewer ’n emosionele ondersteuningsdiens aan kankerpasiënte en hul families.
Hierdie vrywilligers besoek pasiënte een maal per week om die nodige ondersteuning te bied.
’n Ondersteuningsgroep vir pas gediagnoseerde kankerpasiënte en hul families is ook aktief in die Paarl.
Die groep vergader een maal per week vir vier weke agtereenvolgens en word deur kundiges toegespreek oor die volgende onderwerpe: * Wat is kanker? * Behandeling van kanker * Dieet en kanker * Emosionele hanteringstegnieke * Leef met kanker
Indien u graag by hierdie program wil inskakel, skakel die Kansa-kantoor by 876-3589, gedurende kantoorure.
Toktokkie by die deur
EET gesonde kos, oefen gereeld, wees sonslim en moenie rook nie.
Dit is slegs ’n paar van die gesondheidsboodskappe wat Kansa (Kankervereniging van Suid-Afrika) gaan bevorder tydens die Toktokkie gemeenskapsveldtog wat Woensdag om 10:00 by die Wellington gholfklub begin.
Kansa-vrywilligers besoek huise en sake-ondernemings om gemeenskappe in te lig oor gesonde leefstylkeuses en om die nodige geld in te samel vir die organisasie se werk wat opvoedkundige programme en die fasilitering van sorg en ondersteuning vir kankerpasiënte en persone wat die siekte oorleef het, insluit.
“Kanker kan een in vier Suid-Afrikaners raak, maar gesonde leefstylkeuses soos om gesonde eetgewoontes aan te kweek, gereeld te oefen, nie te rook nie, sonslim te wees, gereelde selfondersoeke te doen en jaarliks mediese toetse te laat doen, kan die risiko aansienlik verminder,” volgens Kansa se besturende direkteur, Niamaat Gamildien.
Daar word nog baie vrywilligers benodig vir die Wellington Toktokkie-projek. Mense wat belang stel om betrokke te raak by die projek of meer inligting verlang, kan Elsa Dauth skakel by 873-6358 tussen 08:00 en 13:00.
Meer inligting oor Kansa en raad oor kanker kan verkry word by Kansa se tolvrye inligtingsdiens by 0800 22 66 22 of besoek www.cansa.org.za.
More
News
|