Vrou aangeval by poskantoor
2009-01-29
Lise Beyers
VRESE oor die onveilige ligging van die posbusse by die Paarl Poskantoor in Lady Greystraat het vandeesweek weereens sy kop uitgesteek, nadat ’n vrou wat twee maande swanger is, aangeval is toe sy haar pos gaan haal het. Die vrou, wat om veiligheidsredes anoniem wil bly, het verlede week helder oordag gaan pos uithaal in die posbuskamer in die steeg langs die poskantoor. Toe sy by die deur wou uitstap, is sy deur ’n man vasgekeer en sy het besef dat hy haar wou beroof. “Ek het so hard moontlik gegil en in die proses het ek op die grond beland. “My aanvaller het bo-oor my gestaan en dit het gelyk asof hy my wil slaan. Ek het gekoes, en hy het met ’n skerp voorwerp die bande van my handsak losgesny.” Die man het hierna in die rigting van Nuwestraat gehardloop. “Ek het uitgestrompel en in die steeg weer om hulp geroep. Twee mans het my noodkrete gehoor en die dief agternagesit.” In die jaagtog het die dief die handsak laat val, sonder om enigiets te neem. Alhoewel die slagoffer nie tydens die voorval beseer is nie, is sy steeds erg geskok. “Dit gaan ’n hele ruk neem voordat ek kan terugkeer na die poskantoor toe.” Toe die nuwe poskantoor twee en ’n half jaar gelede sy deure oopgemaak het, het kliënte reeds hul kommer oor die versteekte posbuskamer in die stegie uitgespreek, soveel so dat die owerhede besluit het dat die deur snags gesluit sal word, en huurders het elkeen ’n gratis sleutel ontvang. Maar dit blyk ook nie ’n oplossing te wees nie, want party huurders vergeet om die deur te sluit, en boemelaars gebruik dan die posbuskamer as uitkampplek. Lede van die publiek meen daar behoort ’n 24-uur sekuriteitswag te wees. * A woman was attacked in the room housing the post boxes at the post office in central Paarl.
More
News
|