Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Gewilde musiekgroep van Duitsland tree op

Gewilde musiekgroep van Duitsland tree op
 
2009-01-29


’n MENS betrap jouself dikwels dat jy uit die bloute ’n besonder gewilde deuntjie fluit of neurie en besef dan watter trefkrag in so ’n deuntjie opgesluit lę. Dit word deel van die ‘treffersparade’ diep in jou agterkop.

Wie het dan nie die bekende ‘Lemon Tree’ van die groep Fools Garden op dié lysie nie?

Ernest Bürgin, eienaar van Mont Destin buite Stellenbosch, het ’n paar maande gelede só begeesterd van ’n konsert van dié groep in Duitsland na Suid-Afrika teruggekeer, dat hy net nie anders kon as om hulle hierheen te nooi nie.

‘n Eksklusiewe “unplugged” optrede van die befaamde Duitse groep word op Saterdag 14 Februarie van 16:30 tot 20:00 en op Sondag 15 Februarie van 11:30 tot 15:00 op Mont Destin aangebied.

Musiek- en wynliefhebbers kan dus begin uitsien na opkikker-musiek in die geselskap van uitstekende Mont Destin wyne en fynproewersdisse deur Andrea Foulkes van Dish Food & Social.

Gaste word genooi om luilekker deur die lowergroen Mont Destin wingerde te wandel, die bekroonde wyne te proe en in die manjifieke tuine te ontspan terwyl hulle gestreel word deur die trefferklanke van die einste duo wat die gewilde Duitse groep begin het.

Fools Garden is in 1991 deur die geesdriftige musikale maestro’s, Peter Freudenthaler en Volker Hinkel, in Duitsland op die been gebring.

Vier jaar later was Lemon Tree op almal se lippe en die twee se name bo-aan trefferlyste węreldwyd.

Die liedjie is in 40 tale vertaal en ses miljoen kopieë het van die rakke gevlieg.

’n Onlangse konsert in St Petersburg het 100 000 aanhangers gelok. Fools Garden se optrede op Mont Destin gaan sy eerste in die Wes-Kaap en Suid-Afrika wees, maar hopelik nie die laaste nie!

Mont Destin lę aan die skilderagtige R44 tussen Stellenbosch en die Paarl naby Klapmuts. Dit is in besit van Ernest en Samantha Bürgin, wat ’n liefde vir wyn, musiek, die kuns, goeie kos en la dolce vita met mekaar deel.

Hul wynkelder en aangrensende huis is ’n toonbeeld van hul flair vir vernuwing en hul passie vir die estetiese in harmonie met die omgewing.

Op twee gelukkige paartjies wat die Fools Garden-uitvoering op Mont Destin bywoon, wag ’n spesiale Mont Destin Pinotage Au Deux-ervaring ter waarde van R1 500. Die paartjies sal hulself in ’n luukse Pinotage-bad in die middel van die wingerde kan laat week.

Die sensuele vertroetelingspakket sluit ’n bottel van Mont Destin se bekroonde Pinotage, handdoek-kamerjasse en verhitte bergwater-stortbad in.

Die eksklusiewe Fools Garden-uitvoerings op Mont Destin word tot gehore van 150 gaste elk beperk. Kaartjies kos R550 per persoon en sluit wyn en fynproewerskos in. Bespreek by enige Computicket-tak of aanlyn by www.computicket.co.za.




More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za