Rowwe Roland soek sy "dapper"
2009-01-29
DIE skreeusnaakse Prinses Pippie en Rowwe Roland is die tiende kinderteaterstuk in die gewilde “Prinse en Prinsesse”-reeks en word Saterdag om 10:00 by die Ou Meul-teater opgevoer. Die storie en regie is deur Anna Emm. Vicky Stemmet en Lorrainne du Toit vertolk die rolle van onderskeidelik Prinses Pippie en Rowwe Roland. Die eksentrieke Prinses Pippie wat bang is vir... wel, feitlik alles, en haar teddiebeer, Meneer Claudius, wat oral saam met Pippie is omdat dit haar bietjie dapperder laat voel, ontmoet op ’n dag die seerower, Rowwe Roland. Sy broer, Minder Rowwe Rian, het sy dapper gesteel en nou is hy bang vir... wel, alles! Kan Prinses Pippie en die kinders vir Rowwe Roland help om sy dapper terug te kry? Want sonder jou dapper kan jy mos nie ’n rowwe seerower wees en op gevaarlike avonture gaan nie! Nes al die stories uit hierdie produksiehuis, is “Prinses Pippie en Rowwe Roland” weereens ’n fees van verbeelding. Die kaartjies is R30 en besprekings kan by 083-564-0056 gedoen word.
More
News
|