'n Oes van kunswerke
2009-01-29
Johan Nel
ALLE laerskole in Wellington en omgewing kry vanjaar die geleentheid om tydens die dorp se jaarlikse Oesfees te wys waartoe hulle op kunsgebied in staat is. Die Breytenbach-kultuursentrum op Wellington het pas, in samewerking met die Oesfees, alle laerskole uitgenooi om voorbeelde van leerlinge se visuele kuns, asook hul vaardighede met danse en voordragkuns tydens die Oesfees tussen 17 Maart en 21 Maart by die sentrum ten toon te kom stel. Lizé Hattingh, sameroeper van die komitee wat namens die Breytenbach-sentrum die kultuurweek van die laerskole reël, sê dat hierdie ’n unieke geleentheid bied aan opvoeders en leerders by die dorp en omgewing se laerskole om te kom wys waartoe hulle op kunsgebied in staat is. Visuele kunswerke van laerskoolleerlinge sal vir die duur van die Oesfees in van die sentrum se kunslokale uitgestal word. By die opening van die uitstalling sal skole ook die geleentheid kry om ’n program van danse en voordragte aan te bied. Meer besonderhede oor die kunsweek kan by Lizé Hattingh by 073-341-5002 verkry word.
More
News
|