Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Stappie nader aan 'n eie huis

Stappie nader aan 'n eie huis
 
2005-03-17

Susan Botha

SIYAHLALA-LA, “Ons bly hier” - só het die gesinne wat onlangs uit die Zakazwane informele nedersetting naby Fairyland getrek het, hulle nuwe woongebied gedoop.

Sowat 240 van die 394 gesinne het onlangs geskuif na die gedienste erwe langs Fairyland.

Lyners Raadgewende Ingenieurs, wat verantwoordelik was vir die aanlê van die dienste, het verlede week ook hand bygesit om die nuwe inwoners se lewens te vergemaklik.

Elke gesin het ’n plastiekemmer, seep en toiletpapier ontvang.
Raadslid Arthob Petersen, wat verantwoordelik is vir behuising, het hulle bedank en dit as ’n ongekende gebaar van welwillendheid beskryf.

Petersen sê die projek vorm deel van Drakenstein se besluit verlede jaar om basiese dienste soos riool, water en vullisverwydering aan informele nedersettings te voorsien.

“Dit is ’n basiese mensereg om in aanvaarbare lewensomstandighede te woon.”

Hy erken dat een van die grootste knelpunte die toestroming van mense na stedelike gebiede is.

“Hulle soek werksgeleenthede en dit vergroot natuurlik ons behuisingsnood.”

Hy is egter vinnig om by te voeg dat hy nie “’n pyn het met die intrekkers nie”.

“Mense het die vrye reg om te kies waar hulle wil bly, maar dit gaan natuurlik gepaard met groeipyne.”

Petersen het dit beklemtoon dat hulle graag die dienste wat nou aan die mense voorsien is, verder ontwikkel.

“Ons kyk na nuwe vertoë aan die owerheid om groter permanensie aan die nedersetting te gee.”

Hy verduidelik dat hulle binnekort begin met die volgende fase van Projek 59 (Fairyland) en dat dit gaan beteken dat Siyahlala-la uiteindelik soos ’n seer-oog midde die nuwe huise gaan staan.
Petersen sê die verskuiwing het met baie interaksie en gesprekke gepaard gegaan.

Aanvanklik sou vier gesinne ’n perseel deel, met ’n kraan en toilet tussen hulle.

Die mense het egter beswaar gemaak, aangesien dit sou neerkom op net 16 vk meter per gesin.

Uiteindelik is daar besluit om net twee gesinne per perseel te plaas.
Dit beteken dat daar nou gesoek moet word na nog grond vir die oorblywende gesinne in Zakazwane.

Petersen het bevestig dat hulle reeds besig is met onderhandelings vir bykomende grond.

Mario Filippi van Lyners sê die projek sal ’n direkte bydrae lewer om besoedeling van die Bergrivier te verminder.

Zakazwane en Fairyland is twee van die gebiede wat verlede jaar by name genoem is in verband met waterbesoedeling.

Hy het die projek beskryf as ’n goeie spanpoging tussen die ingenieurs en die behuisingskantoor.

Neil Lyners het die inwoners geloof: “Ons het hulle eintlik nie veel gegee nie, maar hulle was geduldig en tevrede.”

“Die mense se geduld met die beproewings wat hulle deurgaan, gaan somtyds jou verstand te bowe,” het Petersen bygevoeg.

Hy het afgesluit deur te sê dat hulle graag meer sal wil doen op die behuisingsfront, maar “die koek is net só groot en ons moet binne die finansiële raamwerk bly”.

* A large batch of squatters have moved to serviced plots in Paarl East.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za