Paarl klop voorloper
2009-01-29
PAARL KRIEKETKLUB het die afgelope naweek die span van Paarl-Oos op New Orleans met twee paaltjies geklop en sodoende die voorloper sy eerste loesing van die seisoen toegedien. Die tuisspan het besluit om eerste te gaan kolf en die paaltjies het met reëlmaat geval. Paarl-Oos kon uiteindelik 148/10 aanteken met Morné de Vries (50, 2x4) die enigste kolwer wat enige teenstand kon bied teen die besoekende boulers. Vir Paarl het Godfrey Stevens (3/39) en Alfredo Adams (3/21) die paaltjies laat kantel. Vroeër het Clint Philander (0/16 in 6 beurte) en Ultalyn Ernstzen (1/21 in 6 boulbeurte) ook goed geboul. Die Paarl boulers het ook die nodige ondersteuning van hul veldwerkers geniet. Die span van Paarl (150/8) het die wenlopies behaal in die 42ste boulbeurt. Elreigh Jansen (22, 1x4), Stevens (41, 4x4) en Lynal Jansen (41, 3x4 en 1x6) het goeie kolfvertonings gelewer. Waylin September (3/31) en Zaynodean Fredericks (2/23) was die tuisspan se beste boulers. Paarl II (184/10) het hul eweknie van Paarl-Oos (171/10) met 13 lopies geklop op Allandale. Vir die besoekers het Kurt Martin (69, 5x4 en 1x6) en Graham Adams (32, 3x4) goed gekolf. Paarl-Oos se K Cupido (38, 4x4), Wayne Jantjies (28, 3x6) en L Goliath (39, 6x4) het hul span tot op die rand van ’n oorwinning geneem, maar Adams het aan die einde die wedstryd vir Paarl beklink deur die laaste twee paaltjies te laat kantel. Paarl III (220/9) het hul eweknie van Oostelikes (136/10) met 84 lopies geklop op die Parys-velde. Vir die tuisspan het Coutley Pharaoh (29, 5x4), Gershwin Philander (43, 4x4) en D Isaacs (67, 4x4 en 3x6) lopies aangeteken terwyl Brenton van Schoor (4/13) en Keenan Cupido (4/15) die tuisspan se beste boulers was. Saterdag en Sondag speel Paarl I en II teen Wellington I en II op Wellington. Paarl III en IV het albei loslootjies. Paarl neem Sondag deel aan die Groot Drakenstein Sportklub se ses-aan-’n-kant kriekettoernooi op die Pickstone Oval. Toeskouers word versoek om die span te kom ondersteun. * Paarl-Oos I speel Saterdag tuis teen Vredenburg/Saldanha op New-Orleans se velde terwyl Paarl-Oos II weg speel teen Vredenburg/Saldanha II. Paarl-Oos se derde span speel tuis teen Peoples III op Allandale.
More
News
|