Groot koppestamp
2009-01-29
Jaco van Wyk
SATERDAG is alweer daardie tyd van die jaar wanneer die Vodacom Stormers weereens gaan poog om die Boland Kavaliers as ‘slaansakke’ in te span tydens hul wedstryd op Boland-stadion in Wellington. Dié jaarlikse kragmeting, wat dien as ’n opwarmingswedstryd vir die span van die Kaap voor die afskop van die Super 14-rugbyreeks, lok elke jaar groot getalle ondersteuners en word onder rugbygeesdriftiges beskou as een van die ‘moet-sien’ wedstryde van die seisoen. Terwyl beide spanne dié vriendskaplike wedstryd sal aandurf met die doel om wedstrydskerp te wees wanneer hul onderskeie seisoene afskop, sal die Stormers hoop om oor hul opponente te hardloop, terwyl die Kavaliers se doel eenvoudig sal wees om hulself teen taai kompetisie te meet. En ja, gewoonlik wen die Kapenaars dié stryd heel gemaklik. Wat die Stormers egter nie moet vergeet nie, is dat die Kavaliers jaarliks ’n bedreiging is vir die WP span in die Curriebeker-reeks. Op die ou einde is die Stormers tog dieselfde Kaapse span, net met ’n ander trui en selfvertroue wat by hul ore uitloop. Beide spanne weet boonop hoe om die bal lug te gee en hoe om die toeskouers opgewonde en op hul tone te hou. Die Stormers skop die Super 14-reeks teen die Sharks af op 14 Februarie terwyl die Kavaliers se eerste Vodacombeker-wedstryd op 27 Februarie sal plaasvind teen die Natal Wildebeeste op Boland-stadion. Wat kan dien as ’n vroeë maatstaf van hoe die twee spanne vergelyk, is hul wedstryde teen die Engelse klubspan, Saracens, wat tans in Suid-Afrika toer. Terwyl die Stormers verlede Saterdag vir die Engelse span ore aangesit het met 43-33 op Nuweland, het die manne van Wellington gisteraand kragte gemeet teen die toerspan op Boland-stadion. Die Kavaliers het egter ’n ‘B-span’ ingespan. Teen druktyd was dié uitslag nog onbekend. Een ding wat die Kavaliers uit die Nuwelandse stryd kon leer, was dat die Kapenaars se skrum behoorlik gekreun het teen die skrum van Saracens. Ironies genoeg was die voormalige Stormers-speler, Cobus Visagie, heel voor in Saracens se skrumkoor. Die Kavaliers se skrum is hulle geheime wapen en hulle kan gerus Saterdag die Stormers voorlangs bietjie afknou om te verhoed dat gevaarmanne soos Peter Grant , Jean de Villiers en Gcobani Bobo die bal op die voorvoet kry. Saterdag se wedstryd skop om 17:30 af en kaartjies wat vooraf bespreek is vir die hoofpawiljoen beloop R50. Toegang is R30 (skoliere R10) en kaartjies is beskikbaar by Boland Rugby en by Pêrel Sport. Die voorwedstryd tussen Boland B en WP sal nie meer plaasvind nie.
More
News
|