MET tannie Marié Joubert, wat verlede week in haar hartland, die Paarl, ter ruste gelê is, het ek ’n spesiale band. Vir haar en haar eggenoot, wyle oom Frans, het ek altyd ’n besondere waardering gehad.
Vandat ek ’n baie klein dogtertjie was in die Strand, sou die woorde “Parys” en “Joubert” vir my sinoniem word.
Vanaf my oupa Jan Botha se huis in Kloofstraat kon jy Parys in die verte sien lê as jy op ’n spesiale plek staan. Sy vrou, my ouma Susie, was ’n nooi Joubert van Parys-plaas.
Vir die Joubert-nakomelinge was Parys ’n kompaspunt wat steeds ’n realiteit sou bly, ongeag waar hulle hulle bevind.
Ek is gelukkig in besit van ’n pragtige skildery van Parys se plaashuis op Parys soos dit gelyk het vroeër jare in die tyd wat dit deur my oupagrootjie Frans Joubert gebou is. Hy was parlementslid (VP) vir die Paarl in die dertigerjare.
Ek het van die hele familie van tantes en groottantes, en ook van die ooms, verstaan dat oupagrootjie Frans ’n gerekende maar nederige man was.
’n Man wat nie nonsens gevat het nie en ’n reguit pad geloop het; en ook nie hovaardig was nie, hoewel hy as ’n belangrike persoon beskou is wat sy gemeenskap op velerlei wyses gedien het.
Hoe wens ek nie vandag dat ek hom geken het nie.
Net so graag sou ek sy vrou, my oumagrootjie Maggie Joubert (gebore De Villiers, uit die geslag van die musikale “Kators-Viljees”) wou ken. Haar pa, Rocco de Villiers, was veral bekend as orrelis van die Strooidakkerk.