NA aanleiding van die berig oor die man wat sy bure se seun met ’n vuurwapen gekonfronteer het rakende sy harde musiek, die volgende: Op Saterdag 24 Januarie was daar ’n klopsekompetisie by Boland-stadion.
Vir byna 12 ure moes ons as belastingbetalers gedwonge na uiters harde en irriterende musiek van die mense wat die stadion vir daardie dag gebruik het, luister. Ons as betalende inwoners kon, al het ons ons huise se vensters en deure toegemaak, woord vir woord van hul harde musiek hoor.
Na al die ure van die aanhoudende geraas het ’n mens later geen beheer oor jou optrede nie en ek meen die owerhede moet beslis ’n perk op die intensiteit van hierdie klankversterking by Boland-stadion stel.
Ons as belastingbetalers op Wellington het ook regte. Hoekom moet die eienaars van Boland-stadion, wat seker kwytgeskeld is van munisipale belasting, meer regte hê as ons as belastingbetalers?
Asseblief Boland Rugby, ons is siek en sat vir die lawaai van Boland-stadion se huurders.
Wanda Luus