IN ’n deurslaggewende inisiatief in die wynbedryf, is ’n opheffende grondhervormingsooreenkoms onlangs gesluit tussen die Adama-werkerstrust en die Bosman-familie van Lelienfontein-plaas, Wellington. Dit is die grootste van sy soort.
Vyftig persent van 430 hektaar uitsoek-wingerdgrond is na Adama Appollo Holdings, ’n dogtermaatskappy wat in geheel aan die Adama-werkerstrust behoort, oorgedra. Hierdie grond sluit wingerde van die De Rust-plaas by Wellington (waar pryswenner-wyndruiwe geproduseer word), die naburige plaas Olyfboom, en die De Bos-landgoed in die Hemel-en-Aarde-vallei in.
Dit sluit ook ’n deel van Bosman Family Vineyards se wynkelder op Lelienfontein in, sowel as ’n aandeel in die bedryfs- en wingerdbou-maatskappy JC Bosman Boerdery. Sowat 260 werkers wat drie of meer jaar op die plaas gewerk het, is bevoordeeldes van die transaksie.
Petrus Bosman, direkteur van JC Bosman Boerdery, sê: “Ons het op ’n samewerkingsooreenkoms besluit, aangesien so ’n transaksie die lewensvatbaarheid van die projek sal verhoog. Dit behels ons kernbesigheid - van die verbouing van wingerd, tot die maak van wyn, in. Ondersteuning en konsultasie sal dus deel wees van ons dagtaak.
“Al is die fokus van die ooreenkoms grondhervorming,” sê Petrus, “wil ons ook aan ons werkers toegang gee tot die hele waardeketting van ons bedryf – die ekonomiese voordele en vooruitsig van sosiale ontwikkeling. Ons het daarom besluit op ’n samevoeging van landbougrond, die kelder, bedryfswerking en bemarking.”
Rita Andreas, voorsitter van die Adama-Werkerstrust, sê: “In die kort termyn sal ons fokus op ons vaardigheidsontwikkeling, maar ons langtermyn doelwit is die lewensvatbare groei van die groep. Ons glo dat ons, met die hulp en kennis van die Bosman-familie, ons gesamentlike doelwitte sal bereik.”
Opheffing was nog altyd ’n kern van die Lelienfontein-plaas, met Petrus en sy pa, Jannie Bosman, wat die ooreenkoms al vroeg in Januarie 2007 aan die Adama-werkerskomitee voorgestel het.
’n Grondhervormingsaansoek is toe deur die werkers by die Departement van Grondsake ingedien ien dit is in Augustus 2008 goedgekeur en in Desember gefinaliseer.
Die transaksie is befonds deur ’n toekennings van Grondsake, maar die Bosmans en die plaaswerkers het ook geld bygedra. Verskeie van die bevoordeeldes werk al vir meer as 25 jaar op die plaas.
Die werkers sal toegang hê tot 250 hektaar wingerd, die beste wynmaakgeriewe, en ’n aandeel in Lelienfontein Wingerdkwekers, die grootste wingerdkwekery in Afrika.
Die druiwe sal nou boonop kwalifiseer vir Fairtrade-akkreditasie, sowel as die wyn, wat deur Wamakersvallei Wynkelder gemaak sal word.