Gouws voor oor bedrog
2009-02-05
Liezl Dyson
’n PAARLIET, Marthinus Gouws, wat hom glo as ’n regsgeleerde voordoen, het Maandag vlugtig in die Paarlse Streekhof op ’n aanklag van bedrog verskyn. Gouws word daarvan beskuldig dat hy aan die ouer van ’n beskuldigde in ’n Vredendalse moordsaak voorgegee het dat hy ’n ooreenkoms met advokaat Deon Desmond van Rooyen het, waarvolgens hy as agent vir Van Rooyen optree. Gouws, van “Gouws & Gouws Konsultante”, is R11 050 deur die moeder van die beskuldigde betaal om ’n regspan bymekaar te kry wat haar seun sou verdedig in sy moordsaak. Luidens die klagstaat het Gouws haar ingelig dat Van Rooyen ’n konsultasiefooi van R700 verlang en dat sy konsultasiefooi R350 beloop. Gouws het voorgegee dat hy die konsultasie namens Van Rooyen behartig en dat Van Rooyen se diensfooi in ’n strafregtelike aangeleentheid R10 000 beloop. Die klaer het ’n lening aangegaan en die totaal van R11 050 aan Gouws gegee. Daar het egter geen ooreenkoms tussen hom en Van Rooyen bestaan waarvolgens hy as agent vir Van Rooyen optree nie. Streeklanddros N Smile het die saak tot 5 Maart uitgestel vir die aanstel van ’n regsverteenwoordiger. Gouws se vorige regsverteenwoordiger het onttrek van die saak weens botsende belange. * Daar is in 2005 is ’n saak van verkragting van ’n tienermeisie teen Gouws en Jerome von Willigh aanhangig gemaak, ná ’n voorval in die Welsynskantore in die Paarl. Die saak is later teen Gouws teruggetrek. Hy is hierna weer aangekla op ’n afsonderlike klag van poging tot verkragting en onsedelike aanranding van ’n werknemer van sy skoonmaakdiens. Die saak is ook later teruggetrek weens te min getuienis. -
More
News
|