Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Hansies nie meer so slim na bergklim

Hansies nie meer so slim na bergklim
 
2009-02-05

Lise Beyers

TIEN Hansies het Sondag gedink dat hulle baie slim was toe hulle die pad gevat het, die Groot Drakenstein-berge in.

Maar hulle slimheid was kort van duur toe hulle die nag alleen moes deurbring in die berg, met die geskarrel van bobbejane naby hulle en die vrees vir slange en skerpioene tussen die rotse.

En intussen het ’n hele gemeenskap Sondagnag angswekkende oomblikke beleef, toe hulle in die donker probeer soek het na die seuns.

’n Groep skoliere van Lanquedoc, digby Pniel, het Sondagmiddag oudergewoonte berg op ge-stap.

Kaalvoet en slegs geklee met kortbroeke en kortmouhemde, het die makkers ’n paadjie gevolg wat hulle geken het tot bo-op die kruin, bokant Kylemore. Een van hulle is vroeër berg-af, maar nog tien het verder ge-stap.

Hulle tydsberekening het hulle egter in die steek gelaat, en toe hulle weer by ’n skeur wou afklim, het dit reeds begin donker word. Hulle het dus besluit om op ’n veilige plek in die berg te oornag.

Bekommerde ouers het intussen op die hange van die berg begin soek na die groepie, maar hulle is deur die donker oorval, en die kinders was te ver in die berg op om hul noodkrete te hoor.

Die Groot Drakenstein polisie is kort na middernag van die kinders se verdwyning in kennis gestel en die Wilderness Search and Rescue-reddingspan is vanuit Somerset-Wes ontbied.

Daar was egter min wat in die donker gedoen kon word, en met eerste lig Maandagoggend is daar verwoed begin soek na die kinders, met die hulp van ’n helikopter.

Reddingswerkers het begin bekommerd raak toe hulle op enkele kledingstukke in die berg afgekom het wat aan die kinders behoort het.

Maar teen omstreeks 09:00 is die kinders gewaar waar hulle in ’n netjies ry by die berg afgestap het.

Verligte reddingswerkers het na die groep gesnel en gehelp om hulle na veiligheid te bring.

Maar eintlik, vertel die ouer kinders, was hulle nooit in gevaar nie.

“Dit het net begin laat raak en ons het geweet dat dit onveilig sou wees om daai tyd berg-af te gaan,” vertel Elshaan Daniels (15), wat homself aangestel het as leier van die groep.

“Dit het koud geraak deur die nag, en die jonger kinders het begin huil toe die bobbejane naby ons geblaf het.

“Ons was ook baie honger, maar het darem water uit ’n stroompie kon drink.”

Die ouers het gemengde gevoelens getoon toe die seuns hulle uiteindelik bereik. Party kon die trane van vreugde en verligting nie beteuel nie, terwyl ander ’n bietjie kwaad was oor die seuns se onverantwoordelike optrede.

Donny Dunn, leier van die reddingoperasie, het gesê dat dit die beste besluit was wat die seuns kon neem om wel in die berg te oornag.

“As hulle in die donker probeer afkom het, kon van hulle beserings opgedoen het en sou hulle beslis ook verdwaal het.

“Dan sou ons eers ons hande vol gehad het.”

Dunn het verder bygevoeg dat enigiemand wat ’n berg klim, altyd voorbereid moet wees op die ergste.

“’n Selfoon moet altyd byderhand wees. As daar nie ’n sein is nie, kan ’n sms soms werk.

“Stappers moet ook iets te ete en drinke byderhand hê, asook ’n warm kledingstuk. Die weer kan baie vinnig verander in die berg.

“Daar moet altyd aan iemand op die grond presies verduidelik word watter roete jy gaan volg. Die noodnommers is 10177 of 021-937-0300.”

Intussen het ’n gemeenskapsleier, John January, wat die kinders ingewag het, vir hulle ’n behoorlike mondelinge skrobbering gegee.

“Julle doen dit nie weer nie. Die berg is gevaarlik met baie slange en skerpioene. Kyk wat julle ouers moes deurmaak,” het hy geskel.

Die koste van die reddingsoperasie word beraam op sowat R30 000.

En so is die moeë seuns uiteindelik na hul ouerhuise toe, met net een gedagte in hul kop - ’n warm bord kos en ’n bed. Asook hopelik met die gedagte dat hulle nooit weer so in die berge sal instap nie.

* Ten boys returned home safely on Monday morning, after spending the night in the mountains.


More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za