Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


'Spook-kar' vat die pad

'Spook-kar' vat die pad
 
2009-02-05

Lise Beyers

DIT lyk asof motordiewe al hoe jonger raak, nadat ’n negejarige seun gevang is agter die stuur van ’n motor wat vermoedelik in New Orleans gesteel is.

Die drama het hom verlede Sondag afgespeel, toe die Marquard familie rustig verkeer het in hul New Orleanslaan woning.

Cynthia Marquard was die eerste een om agterdogtig te raak toe sy op hul voorstoep gesit het en haar dogter se Toyota Cressida stasiewa se deur hoor klap het.

Toe sy gaan ondersoek instel, het sy egter niks gesien nie en die deur gesluit.

Sy het wél drie opgeskote seuns naby die huis sien drentel, reg vir kattekwaad.

Cynthia is na binne en enkele oomblikke later het bure aan hul voordeur gehamer en vir haar en haar man, Reginald, gesê dat die Cressida die pad gevat het.

Hul dogter, Marianne, was op daardie stadium straat af na ’n winkel, toe sy voorgekeer is deur kennisse in ’n bakkie wat vir haar vertel het dat haar motor voete gekry het.

Marianne het dadelik saam met hulle in die motor geklim, en hulle het in die rigting van Jan van Riebeeckrylaan gery, en vandaar in die rigting van die N1.

Toe hulle op die Paryspad beland, kon hulle Marianne se metaal-bruin voertuig in die verte sien in ’n rookwolk. Verskeie motors het op daardie stadium reeds langs die motor gery om dit tot stilstand te probeer bring.

“Toe ons nader kom, kon ek nie ’n bestuurder sien nie, net handjies om die stuurwiel. Dit is eers toe ons langs hom ry dat ek sien dat dit ’n jong seun is, asook ’n ewe jong passasier.

“Hy het taamlik stadig gery en die hele pad in eerste rat.

“Ons het vir hom geskree dat hy moet stop, maar hy het voortgery.

“By die verkeerslig na die Mall het hy stadig gery en ek kon daarin slaag om in te klim en die motor tot stilstand te bring.

“Die mannetjie het toe in trane uitgebars, en sy passasier het die pad gevat.”

Volgens ooggetuies wat die ‘spook-kar’ opgelet het, het die jong bestuurder oor verskeie rooi verkeersligte gejaag, voordat hy tot stilstand gedwing is.

Die seuns het glo toegang tot die voertuig gekry met ’n vervalste sleutel. Dikwels pas sleutels van ouer model voertuie in soortgelyke modelle.

Daar bestaan nou ’n vermoede dat hulle die sleutel gegee is deur ’n volwasse motordief en aangesê is om die voertuig tot by die N1 te ry.

Veral ouer Toyotas is gesog vir hul onderdele wat gebruik word in die taxi-bedryf.

Alhoewel die Marquards verlig is om die motor terug te kry, is daar geweldige skade aangerig, weens die feit dat die seun die hele pad in eerste rat gery het.

Die seun is deur die polisie weggeneem en aan sy ouers terugbesorg wat in die omgewing woon. Die saak sal nou aan die vervolgingsgesag voorgelê word vir beslissing.

Maar, volgens regskenners, sal daar nie eens ’n klad langs die kind se naam beland nie, al moet die Marquards duisende rande opdok vir die herstel van die motor.

* A nine-year-old boy stole a car in New Orleans.


More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za