Skryf junior sportsterre vandag in
2009-02-05
PAARL POST gaan voortaan elke maand ’n junior sportster van die maand aanwys. Plaaslike skole en klubs word aangemoedig om hul nominasies vir ’n junior uitblinker (agtien jaar en jonger) op enige sportgebied, te benoem as Paarl Post en SuperSport Let’s Play se Sportster van die Maand. Let’s Play is ’n korporatiewe gemeenskapsprojek, wat geskep is deur SuperSport en vennote, met die doel om ’n meer aktiewe en gesonder gemeenskap te bevorder. Paarl Post gaan weekliks die nominasies evalueer om in die laaste week van elke maand ’n wenner aan te kondig. ’n Onderhoud sal gevoer word met elke maand se wenner, wat dan saam met ’n foto in die Paarl Post gepubliseer sal word. Maandelikse wenners sal ook ’n SuperSport geskenkpak (hemp, pet en sportsak) ontvang. Die finaliste kwalifiseer outomaties vir Paarl Post se Sportster van die Jaar-toekenning en sal aan die einde van die jaar, saam met hul naaste familie, uitgenooi word na ’n geselligheid waar die groot wenner aangewys sal word. Die finaliste sal sertifikate ontvang tydens dié geselligheid, met die Sportster van die Jaar wat onder meer ’n trofee, met komplimente van SuperSport, sal ontvang. Die uitslae sal op SuperSport se webwerf verskyn, en die dinee sal moontlik gebeeldsend word.
More
News
|