Peoples mors met opponente
2009-02-05
YOUNG PEOPLES het Saterdag korte mette gemaak met hul opponente van Malmesbury en maklik met ses paaltjies geseëvier. Die Swartlanders is uitgeboender vir ’n skamele 71 lopies, met die Tiere se Ryan Davids (5/13 in 7bb) wat verwoesting gesaai het met die bal. Hy was goed ondersteun deur Charlton Daniels (2/24 in 9bb) en Peter-John de Villiers (2/16 in 7bb). Peoples het met sy kolfbeurt 75/4 behaal in 20 boulbeurte, en sodoende ’n waardevolle bonuspunt ingesamel. Imran Nackerdien (38*, 4x4) het Peoples se kolfaanslag gelei. Peoples se tweede span het ook op Daljosafat koning gekraai deur vir Malmesbury II met 241 lopies af te ransel. Peoples het eerste gekolf en ’n allemintige 335/9 in 45 boulbeurte aangeteken. Die Tiere se kolwers het behoorlik baljaar met Ashfaq Ahmed (54, 6x4) wat pragtig gekolf het. Die dag het egter behoort aan twee kolwers, Melvyn Jackson (90, 12x4 en 3x6) en Lee-Jonh Julies (98, 9x4 en 1x6), wat net-net hul honderdtalle misgeloop het. Peoples het hierna gaan boul en die besoekers is uitgehaal vir slegs 94 lopies. Garren Fortuin (2/25 in 7bb), Wayne Jacobs (2/26 in 7bb) en die jong Cameron Engelbrecht (3/15 in 5bb) het skitterend gevaar met die bal. * Hierdie naweek is dit net Peoples se derde span wat in aksie is wanneer hulle Saterdag in ’n derby-wedstryd teen Paarl III te staan kom op die Parys-velde. Sondag is egter die groot stryd wanneer die derde span in die Pro 20-finaal in aksie is teen Oostelikes III op Boland Park. Die wedstryd begin omstreeks 10:30. Alle spelers, lede en ondersteuners word versoek om die derde span te kom ondersteun.
More
News
|