Paarl-Oos terug op wenpad
2009-02-05
Jaco van Wyk
DIE krieketspan van GMT Paarl-Oos is terug op die wenpad nadat hulle Saterdag, in die Paarl, met vyf paaltjies geseëvier het teen Vredenburg/Saldanha. Die manne van die Weskus het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Met die Paarliete se Waylin September (4/31) en Tiaan Cloete (3/23) op hul gevaarlike beste, kon Vredenburg/Saldanha slegs 126 lopies aanteken. C Meyer (41, 3x4 en 1x6) en T Kannemeyer (27, 2x4 en 1x6) het goed gekolf vir die besoekers. Paarl-Oos het die telling gejaag en binne 35,3 boulbeurte 127 lopies aangeteken vir die verlies van vyf paaltjies. Die tuisspan se hoogste tellings was behaal deur Kurt Julies (34, 2x4) en Garth Lewis (45, 4x4). Vir Vredenburg/Saldanha kon slegs C Meyer (3/19) weerstand vir die Paarliete bied. Paarl-Oos se tweede span het Saterdag weg gespeel teen die tweede span van Vredenburg/Saldanha. Met Wayne Jantjies (40, 5x4 en 1x6), Wilton van Neel (59, 3x6 en 2x4), Lee-Roy Goliath (23, 1x4) en Werner Erasmus (31*, 3x6 en 1x4) aan die spits het Paarl-Oos 193/6 aangeteken na hul toegelate 45 boulbeurte. Die tuisspan se M Parring het 2 paaltjies vir 31 lopies geneem. Vredenburg/Saldanha het hard geveg om hul opponente onder te kry en uiteindelik net-net die botoon gevoer deur die wenlopies (194/8) in die 44ste boulbeurt te behaal. Vir die tuisspan het B van Wyk (23, 2x4 en 1x6), R Kiwudu (37, 4x4) en C Thomas (33*, 4x4) goed gekolf. Paarl-Oos III het op Allandale te staan gekom teen die derde span van Young Peoples. Na Dale Watts (31, 1x6) die grootste bydrae gelewer het tot Paarl-Oos se 173 lopies, het DJ Neff (3/27) die grootste bydrae gelewer om vir Young Peoples uit te haal vir 94 lopies. Paarl-Oos wen dié wedstryd dus met 79 lopies. Peoples se C Williams (3/21) en Werner Cupido (6/24) het goeie boulvertonings gelewer. * Eerskomende Saterdag kom Paarl-Oos I weer te staan teen Vredenburg/Saldanha. Paarl-Oos III speel weg teen Oostelikes in Kraaifontein. Paarl-Oos Krieketklub se bestuursvergadering vind plaas op 11 Februarie om 18:00 by die klubhuis. en op 14 Februarie hou die klub karaoke by die klubhuis.
More
News
|