Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Boland getref deur storm(ers)

Boland getref deur storm(ers)
 
2009-02-05

Jaco van Wyk

DIE insig van ’n profeet was toe nie nodig om vooraf te voorspel wat die uitslag van Saterdag se kragmeting tussen die Stormers en die Kavaliers op Boland-stadion sou wees nie.

Die 55-14 telling waarmee die Stormers uiteindelik baas was, het niemand verras nie. Wat wel verrassend was, of eerder tipies van die Kavaliers, was die veggees waarmee hulle hul Kaapse gaste in toom gehou het in die eerste helfte.

Rassie Erasmus se manne kon na die eerste veertig minute slegs met 15-0 voorloop, en moes hard swoeg om deur die Wynboere se verdediging te beur.

Toe die afrigter van die Stormers sy groot kanonne in die tweede helfte op die veld stuur, was dit egter eenrigtingverkeer van die Kaapse kant af.

Deon Fourie, Nick Koster en Percy Montgomery het goeie drieë vir die Kaapse span gedruk, maar dit was die slot Andries Bekker en die vleuel Tonderai Chavanga wat in die tweede helfte amok veroorsaak het onder die Kavaliers.

Van Bekker, wat drie drieë gedruk het binne die eerste twintig minute van die tweede helfte, kan daar ’n reuse-seisoen verwag word.

Indien Chavanga se vorm van Saterdag konstant bly deur die Super 14 reeks, en indien hy beseringvry bly, gaan dié oud-Zimbabwiër nog stof in die oë van menige opponente skop.

Die uiteinde van die saak is dat beide spanne nou kan voortbou op Saterdag se vertoning.

Hoewel die Kavaliers nog glad nie na ’n kampioenspan lyk nie, kan hulle trots voel op hul verdedigende spel in die eerste helfte, asook op hul aanvallende spel ná die breuk.

Justin Peach het ’n goeie drie gedruk, en die spoedvraat Deon Scholtz se drie was uitstekend afgerond nadat die tuisspan ’n gaping op die punt ontbloot het.

Toe die bal sy pad na Scholtz gemaak het, was dit hakskene vir die Stormers se Joe Pietersen, en die res is geskiedenis.

Aan die ander kant, gemeet aan die Kapenaars se spel in die tweede helfte, lyk dit of vanjaar die jaar van die Stormers mag wees.




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za