Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Koningin Protea

Koningin Protea
 
2009-02-05

Jaco van Wyk

VOLGENS die nuwe kaptein van Suid-Afrika se vroue-krieketspan, Sunette Loubser, is die ‘onmoontlike niks nie’.

“Dit is nou wel ’n bekende slagspreuk,” sê Loubser, “maar dit is presies hoe ek voel wanneer ek op die krieketveld is.”

Paarl Post was verlede jaar in die kol toe die 26-jarige Loubser aangewys is as die koerant se sportvrou van die jaar.

Vanjaar het dié Bolandse krieketspeler egter ’n groot slag geslaan toe sy welverdiend aangewys is as kaptein van die nasionale vrouespan wat in Maart gaan deelneem aan die wêreldbekertoernooi in Australië.

Loubser, wat deesdae ’n onderwyseres is by Parow Hoërskool en woonagtig is in Durbanville, se kriekettalent is al op ’n vroeë ouderdom raakgesien.

Sy het haar internasionale debuut in 2007 teen Pakistan gemaak, maar speel al vanaf 15-jarige ouderdom vir Boland se vrouespan. Sy is ook die afgelope vyf jaar kaptein van die span en het al 104 keer vir Boland gespeel.

“Dit is enige krieketspeler se droom om sy land te verteenwoordig,” sê Loubser, “om nie eens te praat daarvan om die span te lei nie. Daar is regtig niks anders waarop ek op die oomblik trotser is nie.”

As ’n bobaas-draaibouler, asook een wat weet hoe om die kolf te laat praat, ken Loubser al van toekennings inpalm en stof sy nou en dan selfs manspelers uit om gesogte toekennings te buit.

Sy is al twee jaar in ’n ry Van der Stel Klub op Stellenbosch se sportvrou van die jaar en was verlede seisoen die klub se krieketspeler van die jaar asook Boland Krieket se speler van die jaar.

Alhoewel Suid-Afrika slegs sewende gekeur is op die wêreldranglys, is Loubser steeds optimisties oor die wêreldbekertoernooi.

“As ’n span is dit eerstens ons doel om ons beste krieket te speel tydens die toernooi. Daarna kan enigiets gebeur. Ek glo werklik dat enigiets moontlik is.”

Loubser se grootste rolmodel op die krieketveld is haar afrigter by Boland, Noor Rhode, wat ook die afgelope drie jaar die Suid-Afrikaanse vroue-span afrig.

“Hy was nog altyd my inspirasie en iemand na wie ek opkyk,” sê Loubser.

Sy glo daaraan om aan haar spanmaats ’n voorbeeld te stel met haar spel. Met haar beste boulsyfer vir Suid-Afrika ses paaltjies vir drie lopies teen Bermuda (in ’n wêreldbeker kwalifiserende wedstryd), is dit nie moeilik om te dink dat haar spanmaats graag haar voorbeeld wil volg nie.

“Ek is die tipe kaptein wat glo in my span en wat nooit moed opgee nie. Ek sal altyd aanhou veg tot die heel laaste bal, want ek weet dat enigiets in krieket kan gebeur.

“Ek sweer dit is die snaaksste game in die wêreld dié.”




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za