Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Gratis kaartjies vir Pedro Kruger

Gratis kaartjies vir Pedro Kruger
 
2009-02-05


DIE gewilde akteur Pedro Kruger tree dié week saam met Jolette Odendaal op in die komedie Op die vrou af 2 vanaand en Saterdagaand by die Oude Libertas-amfiteater. Die verhoogstuk, gegrond op Sarie se bekroonde treffer-rubriek deur André le Roux, het gehore landwyd gaande gehad en gesorg vir vele lagbuie.

Die kreatiewe span agter die eerste vertoning het weereens kragte saamgespan om Op die vrou af 2 te skep, propvol sjarme en met vlymskerp humor

Pedro is bekend vir sy deelname aan Liriekeraai op kykNET en ook vir sy kabarette Blougat, Klein-Anna se Lament, Lyf en Pello.

Sy talent as akteur, komponis, sanger en storieverteller maak van hom tans een van die veelsydigste kunstenaars op Suid-Afrikaanse verhoë.

Vurige Odendaal het in 1994 die professionele musiekbedryf betree as lid van die bekende à capella-groep Cutt Glas.

Sedertdien was sy ook saam met ander bekendes in verskeie gewilde verhoogproduksies en haar eerste solo-album Jolette het die lig gesien.

Die regie word behartig deur Hennie van Greunen, wat ook die teks verwerk het. Hennie is ’n bekroonde skrywer, regisseur en vervaardiger wat veral bekend is vir sy produksies Anna se Engel, Breinbliksem, Festen en Shirley Valentyn.

André le Roux se fyn waarneming van die kwinte en kwellinge tussen man en vrou maak hierdie produksie ’n komedie waarin jy jouself sal herken.

Sy spitsvondighede het al diep in die harte van vroue (én mans) gekruip, juis omdat dit so subtiel die draak steek met albei geslagte.

Hy hoor gereeld: “Dit voel of jy by ons in die huis woon, hoe anders beskryf jy alles so raak?”

G’n wonder nie – Op die vrou af 2 is ’n produksie waarin man en vrou in die gehoor mekaar deurentyd in die ribbes pomp met ’n: “Dis jy daai!”

Bespreek by Computicket of die Oude Libertas kaartjiekantoor by 021-809-7473 of 021-809-7380 of besoek www.oudelibertasamphitheatre.co.za.

* Lesers wat vir twee gratis kaartjies in aanmerking wil kom, kan hulle besonderhede (naam en telefoonnommer) e-pos aan edit@paarlpost.co.za voor 12:00 op 6 Februarie met die woord Pedro.




More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za