Sportster van die Maand gesoek
2009-02-12
PAARL POST wys aan die einde van elke maand, in samewerking met SuperSport Let’s Play, ’n maandelikse sportuitblinker op hoër- of laerskoolvlak aan. Laerskole, hoërskole en klubs word uitgenooi om leerlinge te nomineer vir die maandelikse sportster-toekenning. Aansoeke word nou ingewag om die heel eerste Sporster van die Maand teen einde Februarie aan te wys. Elke maand se wenner sal ’n sak vol pryse wen met die komplimente van SuperSport en staan ’n kans om later vanjaar as die algehele wenner aangewys te word. Navorsing het gewys sowat 20% van alle Suid-Afrikaanse kinders is oorgewig en fisiese opvoeding is toenemend ’n luukse in staatskole. Dít terwyl kinders se lewens al hoe meer deur euwels soos onaktiwiteit, swak voeding, rook, drank- en dwelmmisbruik beïnvloed word. Kinders het skynbaar vergeet hoe om te speel. Waar hulle vroeër jare smiddae in die buitelug sou wees vir fisiese aktiwiteite, is die meeste nou binnenshuis voor die TV-skerm of rekenaarspeletjies. Skole wat hul leerders vir Paarl Post se Sportster van die Maand wil benoem, moet ’n bondige motivering skryf en dit aan Jaco van Wyk stuur per e-pos by sport@paarlpost.co.za. Andersins kan dit gepos of afgelewer word by Jan van Riebeeckrylaan 8 (Posbus 248), Paarl, 7620. Vir navrae, kontak 021-870-3705. Deelnemers mag aan enige sportkode deelneem.
More
News
|