Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Bergrivier vier 60 jaar van sukses

Bergrivier vier 60 jaar van sukses
 
2009-02-12

Devidean Moses

“STORMS en probleme kan kom, maar geloof en eenheid seëvier,” sê Lucas Slinger, hoof van Hoërskool Bergrivier op Wellington wat vanjaar hul 60ste bestaansjaar vier.

’n Feesdiens word op1 Maart om 10:00 in die VGK Wellington gehou met ds Jarrett Rogers as prediker.

Die skool het op Woensdag 26 Januarie 1949 geopen met 41 standerd sewes in die Friendly Society saal in Voorstraat. Die lokaal was deur middel van ’n afskorting in twee lokale verdeel, om al die leerders in te pas.

Morris Friedling was die eerste skoolhoof en het gedien tot sy aftrede in 1964. Die eerste matriekklas van 15 leerlinge het in 1952 ’n werklikheid geword.

Christopher Albertus (1993) was die eerste akademiese baanbreker by die skool wat met onderskeiding geslaag het. Fransina van Rooi, Heinrich Smith en Gary John Afrikaner tel onder dié wat die skool se naam daarna hoog gehou het met hul akademiese prestasies.

Bergrivier is tans die plaaslike fokusskool vir besigheid, handel en bestuur en is 1998 en 1999 aangewys as sportskool van die Boland.

Die skoolleuse (Werk lewer sukses) motiveer leerders om te glo dat hulle is wat hulle kies om te wees.

“Die lewe skuld niemand iets nie, maar met harde werk kan elkeen dit maak en suksesvol wees,” sê die hoof.

Met die verloop van jare het daar ’n geweldige leerlingtal-ontploffing plaasgevind, soveel so dat daar op een stadium bykans 2000 leerlinge en 74 leerkragte was.

Weens die behoefte moes leerders uit die omliggende dorpe soos Saron, Gouda, Wolseley en Tulbagh in die koshuis gehuisves word. Hierdie situasie het aanleiding gegee tot die totstandkoming van Weltevrede Sekondêr.

“Ek dink dat ons voormalige onderwysers en hoofde soos Morris Friedling, Willie Arendse en Louis Jacobs sal saam juig as hulle sien waarnatoe die skool se sukses gelei het.”

Slinger, self ’n oud-leerder, het in 1978 as jong onderwyser by Bergrivier begin, pas nadat hy die BSc-graad aan die Universiteit van Wes-Kaapland behaal het.

Hy is in 1984 na Weltevrede Sekondêr as departementshoof, maar het in 1988 teruggekeer na Bergrivier as adjunk-prinsipaal en het in 1994 hoof geword. Sy vrou Rachel is matrone van Bergrivier se koshuis.

“Elkeen beskik oor die moontlikheid om as mens te groei indien hulle die kanse benut wat na hul kant toe kom.”




More News
  • Gasheer vir stoei
  • Show-jumping inter-schools at Evergreen
  • Met 'n groot glimlag vorentoe
  • Wiese uit sy nate oor oorsese toer
  • Boishaai gesels saam met grotes
  • Paarl Juniors hit five
  • Sixteen teams in soccer tournament
  • Alexa skrik nie vir 300 doele nie
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za