Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Bergrivier in krisis

Bergrivier in krisis
 
2009-02-12

Lise Beyers

’n PAARLIET het man alleen dit sy taak gemaak om die Drakenstein Munisipaliteit op nasionale televisie pak te gee.

Gordon Rademeyer is al jare lank uiters gefrustreerd deur die agteruitgang van die Bergrivier. Terwyl die Bergrivier ’n pronkstuk van die Paarl behoort te wees, het dit nou egter die afskeep-kind van dié gebied geword, glo hy.

Dus het hy onlangs ’n tuisgemaakte video-opname gemaak en aan die gewilde natuurpro- gram 50/50 gestuur.

Maandagaand is Rademeyer se video landwyd uitgesaai op TV2 en dit was duidelik dat dit baie aandag getrek het by aanbieders.

Dit het die knaende probleem van vullis langs die oewers van die rivier, getoon asook menslike afval en indringerplante wat die rivier uitput.

“Reeds vyf jaar stap ek byna daagliks langs die rivier en in die Arboretum, en ek kan in dié tyd duidelik die agteruitgang hiér sien.

“Vullis van alle soorte word langs die oewers gestrooi en dit word selde skoongemaak deur die Munisipaliteit.

“In die rivier lê daar al vier jaar lank ’n winkeltrollie, maar die owerhede doen nie eens die moeite om dit uit te haal nie. ’n Groot voertuigband lê ook hier in die rivier.

“En as ek sulke goed rapporteer aan die Munisipaliteit, val dit net op dowe ore.”

Ná die uitsending van 50/50, het die Paarl Post self besoek afgelê aan die oewers van die rivier, in die omgewing van die Bergrivier Boulevard en Arboretum.

Alhoewel die graswalle netjies gesny is, het rommel oral gestrooi gelê. Drank- en koeldrankbottels, plastieksakke en selfs babadoeke lê oop en bloot teen die mooi walle van die rivier.

Die eilandjies binne die rivier is vervuil deur indringerplante. In die Aboretum is vullis ook orals sigbaar, en die piekniekbankies is almal van hul houtplanke gestroop. Daar is duidelike tekens van vure wat gemaak is, terwyl dit hiér verbode is.

“Die enigste oplossing hiervoor,” meen Rademeyer, “is om die gebied af te sper en ’n fooi te vra om binne te gaan. Hierdie geld kan dan ook bydra tot die versorging van die rivier, wat so afgeskeep word.

“Die vervaardiger van 50/50 het aan my gesê dat hulle beslis ’n opvolgprogram oor die stand van die Bergrivier gaan doen, indien daar nie dringend ingetree word om die toestand te verbeter nie.”

Volgens talle inwoners wat ook hulle kommer uitgespreek het oor die rivier, is die swak versorging van die omgewing teenaan die rivier, insluitende dele van die Arboretum, nie te rym met planne wat die Munisipaliteit het om die Paarl by die 2010-Wêreldsokkertoernooi te betrek nie.

Dié oogseer is minder as ’n klipgooi ver van die area waar juis ’n Waterfront-ontwikkeling met die oog op 2010 beoog word.

* Hierdie program volg kort op die hakke van rou rioolstortings in die Bergrivier verlede jaar.

Boere is al jare lank baie bekommerd oor die waterkwaliteit, omdat die water vir besproeiingsdoeleindes gebruik word, en besoedelde water die kwaliteit van hul varsprodukte negatief kan beïnvloed.

* The plight of the polluted Berg River and its deterioration in central Paarl was high-lighted on national TV during a nature programme on Monday evening.


More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za