Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Vinnige polisieman

Vinnige polisieman
 
2009-02-12

Lise Beyers

'n Polisieman se werk is nooit klaar nie. Dit is onlangs bewys, toe ’n vlugvoetige Paarlse polisiebeampte wat van diens af was, verantwoordelik was vir die inhegtenisname van twee vermeende diewe.

Konst Anton Lackay het verlede Woensdagmiddag rustig by sy huis verkeer in Scherlaan, New Orleans.

Sy dag af het egter tot ’n einde gekom toe hy na buite is om met sy twee Duitse herdershonde te speel. Hy het ’n jong man in sy buurman se tuin gewaar agter ’n vyeboom.

“Ek het vir hom gevra wat hy daar maak en hy het sonder om te blik of te bloos gesê dat hy vye eet. Ek het wel onraad vermoed en gemaak asof ek teruggaan binne my huis in, maar het hom heeltyd dopgehou.

“Die man het teruggeloop na die huis se kant, toe sien ek ook nog ’n jongetjie. Hulle het twee sakke opgetel en oor die muur gespring en in die rigting van Jan van Riebeeckrylaan gehardloop.”

Toe was die gort behoorlik gaar, en Lackay het in sy motor gespring, ’n polisievriend van hom, konst Garin Fortuin, daar naby opgelaai, en die twee het ’n soektog op tou gesit na die voortvlugtiges.

“Ek het die twee verdagtes opgelet naby die Daljosafat-stadion, en toe hulle vir my gewaar, het hulle die sakke laat val en die pad gevat in die rigting van Groenheuwel.

“Ons het die sakke opgetel en agter hulle aangery.”

Die twee het uiteen gespat en tussen die stegies van Groenheuwel ingehardloop. Lackay en Jooste is ook uitmekaar om hulle aan te keer.

“Die verdagte wat ek gesoek het, het skielik verdwyn en ek het uit my motor geklim en begin soek. Ek het hom tussen die lang gras gewaar waar hy plat op sy maag gelê het, vir hom gegryp en gevisenteer. In sy besit was verskeie stukkies juweliersware, ’n skêr en ’n krammasjientjie.”

Die jongman is geboei en in Lackay se motor gelaai, terwyl hy na Fortuin gaan soek het.

Intussen het Fortuin die ander voortvlugtige in die hande gekry en vasgehou totdat Lackay daar aangekom het.

Pieter Swartz en Jerome Jantjies, asook die gesteelde goedere, is na die Paarl-Oos polisiestasie geneem, waar hulle aangekla is van huisbraak en diefstal.

Lackay se buurman het bevestig dat die goedere wat in die twee sakke was, wel vanuit sy huis gesteel is. Daar was onder andere ’n skootrekenaar, DVD-speler en klere daarin.

Nodeloos om te sê kan inwoners van Scherlaan nou rustiger slaap met die wete dat hul flink polisie-buurman deurentyd sy oë oop hou.

* An off duty Paarl policeman apprehended two burglars who had broken into his neighbour’s.


More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za