DIE 29-jarige Marina Jephthah van die Paarl het deurgedring tot die eindronde van die Mev Suid-Afrika-kompetisie.
Jephthah, ’n skakelbordbeampte by Absa-bank op Wellington, is in die wolke oor dié droom wat vir haar waar geword het.
“Ek wou altyd aan die Mej Suid-Afrika-wedstryd deelneem, maar ek het nooit sover gekom om in te skryf nie. Nou kry ek hierdie geleentheid.”
Sy is een van 22 vroue van regoor die land wat gekies is.
Marina het gesê sy is baie trots dat sy die vallei kan verteenwoordig en dat dié kompetisie haar baie selfvertroue gegee het.
Die Mev Suid-Afrika eindronde is op 21 Maart by die Emperor’s Palace in Johannesburg.