Maak gereed vir fietsren-pret
2009-02-12
DIE uiters gewilde Wilde Fietsren wat Saterdag 21 Februarie plaasvind, beloof om hierdie jaar groter te wees as alle vorige jare. Die geleentheid word, soos in die verlede, aangebied deur die Lions klub van Wellington en geborg deur Pacmar. Daar sal weer twee padwedrenne aangebied word, waarvan die langer roete van 95km vir die liga-fietsryers sal dien as die laaste groot voorbereiding vir die Cape Argus wat in Maart plaasvind. ’n Heerlike nuutjie hierdie jaar is die insluiting van twee mooi Bergfiets-roetes. Nog ’n nuutjie is ’n verversingstent waar eet- en drinkgoed gekoop kan word, wynproe vir die fynproewer en ’n speeltuin vir die kinders. Al hierdie fasiliteite word aangebied binne die mure van die rugbyveld van Wellington Rugbyklub. Kom geniet ’n heerlike, sorgvrye dag saam met die fietsryers, al neem jy nie self deel nie. Bring jou familie, jou sonsambreel of gazebo en kom kuier saam. Alle inskrywings vir fietsryers is op die Wellington Rugbyveld vanwaar hulle na die wegspringarea beweeg. Roetekaarte sal oral aangebring word. * Die strawwe 95km padwedren spring om 06:15 weg voor die Hugenote Laerskool. Die roete vat hulle om die historiese Perdeskoen by die dierehospitaal verby. Dan draai hulle op die lang Hermonpad, verby Riebeek-Kasteel en deur die Riebeekpas na die Paarl/Malmesburypad en terug na Wellington waar hulle weer by die rugbyklub eindig. * Die 55km padwedren spring om 07:30 weg voor die Hugenote Laerskool. Die roete vat hulle om die historiese Perdeskoen by die dierehospitaal verby, dan reguit verby Pacmar tot by die Florida padstal. Dan draai hulle op die Paarl/Malmesburypad tot by die Paardeberg afdraai wat hulle by die Boland Landbouskool verby neem terug tot in Wellington waar hulle weer by die rugbyklub eindig. Die kostes is R70 vir PPA Lede en R95 vir nie PPA Lede. * Die 50km (wegspring 08:00vm) en 20km (wegspring 08:05) vir bergfietsryers begin ook voor die Hugenote Laerskool. Die roetes lei die deelnemers uit Wellington in die rigting van die pragtige Groenbergplase, deur fynbos en wingerde. Kostes is R60 vir PPA lede en R80 vir nie PPA lede. Let wel: Fietsryers wat nie op die dag hul PPA nommers saambring nie, of wat nie hul CSA (Cycling South Afrika) kaart by hul het nie, sal ’n tydelike nommer moet koop teen R30 per nommer. Die sluitingsdatum vir webtuiste inskrywings is Donderdag 19 Februarie. Besoek die webtuiste www.wellington.co.za of kontak André Gilliland by 082-577-7466 vir navrae.
More
News
|