Roses pak Heidelberg in vriendskaplike stryd
2009-02-12
ROSES UNITED pak eerskomende Saterdag die Kaapse span van Heidelberg op Pelikaanpark, Wellington. Dit is die Roses se eerste vriendskaplike wedstryd van die nuwe seisoen en die afrigtingspan, onder leiding van Abe Davids, sal gretig wees om nuwe kombinasies op die proef te stel. Verskeie belowende nuwelinge het onlangs by die klub aangesluit en hulle sal sekerlik ’n goeie indruk wil maak. Daar word veral uitgesien na die vertoning van die nuwe slot-aanwins, Heiko Jacobs. Talle eerstespan-posisies is vakant aangesien verskeie van die Rose se senior spelers weens provinsiale verpligtinge by Boland is en dus min vir die span sal kan uitdraf vanjaar. Boonop het die Rose hulle staatmaker-flank en kaptein, Franzil September, verloor. September draf nou uit vir die SWD Arende. Die opwindende Garth April is ook nou onder die vlerk van die Goue Leeus. Ten spyte van die feit dat die Wellingtonners talle staatmakers verloor het, is die klub besonder trots op die feit dat hy soveel provinsiale spelers kon oplewer. Volgens Davids bied die vriendskaplike wedstryde aan spelers, nuut en oud, die ideale geleentheid om ’n gereelde plek in die eerste span oop te speel. Die hekke open Saterdag om 12:00.
More
News
|