Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Wiele draai maar stadig

Wiele draai maar stadig
 
2009-02-12

Sieb Sieberhagen

DIE wiele van plaaslike motorverkope draai maar stadig, en verkope van nuwe motors is meer as dertig persent swakker as ’n jaar gelede. Dit wil egter lyk asof die mark vir gebruikte voertuie begin verbeter.

Die tweedehandse motormark kan nou spreekwoordelik as die silwer randjie in die donker wolk van motorverkope beskryf word, alhoewel banke meer huiwerig is om die transaksies goed te keur.

Handelaars bly steeds positief, ondanks die swaard van swak ekonomiese toestande wêreldwyd wat oor hulle koppe hang.

Handelaars maak nou weekliks planne en gee ook baie aandag aan die tweedehandse mark, veral waar goeie naverkopediens in plek is.

In 2003 het handelaars in die motorbedryf ’n bloeitydperk betree en is 1714 nuwe voertuie in Paarl verkoop.

Verkope het vinnig toegeneem tot 2305 eenhede in 2004 (34% meer), tot 2937 in 2005 (27% meer), en nog verder gestyg tot 3418 eenhede in 2006 (16%) meer, maar in 2007 het die verkope begin stagneer met 3062 verkope (10% afname) en verlede jaar het dit verminder met 32% tot 2082 transaksies, ten spyte van verskeie nuwe spelers in die mark.

Intreemodel-passasiersvoertuie onder R100 000 en halfton-bakkies verkoop steeds die beste.

Aangesien motorverkope ’n kommissiegedrewe beroep is, verlaat baie verkoopsmanne deesdae die bedryf. Maar tog word planne by die groter agentskappe gemaak om verkoopspersoneel te behou vir wanneer die mark weer gaan kop optel.

Dirk Burger, handelaarshoof van Thorp Motors, beskryf die bedryf tans as uitdagend en baie moeilik.

“Die passasiersmark is onder geweldig baie druk. ’n Paar jaar gelede het ons vier nuwe motors verkoop vir elke gebruikte motor. Nou is die verhouding presies gelyk: een nuwe motor teenoor een gebruikte voertuig.

“Na-verkopediens speel nou ’n belangrike rol. Dit is iets wat ons kan beheer en wat ons nou deur die moeilike tye moet dra.

“Ons poog om nie ons senior personeel te laat gaan nie en maak maar weekliks planne. Ons moet die ouens met ondervinding probeer behou vir wanneer die mark weer beter raak,” sê hy.

Jürgen Zu Bentheim van Novel Ford ondersteun Burger se standpunt: “Ek is seker daar het al baie mense die bedryf verlaat, maar ons probeer om nog met dieselfde aantal personeel reg te kom. Dit is nie noodwendig die regte strategie indien die mark nie hierdie jaar gaan begin optel nie.

“Die enigste troos is dat Novel met net oor die 20% verswak het, maar ons plaaslike penetrasie kon ons verhoog vanaf 28,7% tot 33,4% . Ons is trots om te sê dat ons basies een uit drie voertuie in die Paarl verkoop,” sê hy.

Paarl Vallei Motors, agente vir Volkswagen en Audi, beleef ook ’n baie stil tyd. Waldo Gerber, verkoopsbestuurder, sê: “Ons verkoop ’n bietjie meer nuwe motors as tweedehandse voertuie, maar die mark bly steeds baie stil. Ons fokus nou veral op ons bestaande kliënte, aangesien hulle ons produkte verkies.”

André Botha, handelaarshoof van McCarthy Motors, sê Toyota doen relatief goed in dié tye.

“Ons kry dit reg om nog geld op die tafel te sit. Dit is verblydend dat Toyota nie so erg geraak word nie.

“Ons verkoop ook ’n goeie mengsel van die goedkoper en duurder modelle. Die tweedehandse mark word nie so erg geraak nie.”




More News
  • Manager did much good work
  • Zandwyk Park goes ahead
  • Rare wines hold their own at auction
  • Multiple awards for Grande Provence
  • Grondkundige kragte saamgespan
  • Fairtrade vloei suiwer by Bosmans
  • Sweet success for Nederburg
  • “TERROIRIST” at Nederburg Auction
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za