Rekords spat
2009-02-12
Jaco van Wyk
SEWE rekords is verpletter tydens Hoër Jongenskool se Uitnodigingsbyeenkoms wat verlede Vrydagaand by Brugstraat aangebied is. Verskeie spogskole van die Wes-Kaap, soos Hoërskool Gimnasium, Paul Roos Gimnasium, Rondebosch, Wynberg en Sacs, asook die meisieskole Hoër Meisieskool Paarl en La Rochelle, toon jaarliks hul staal tydens dié byeenkoms. Dit was vanjaar die 37ste keer dat HJS dié prestige-byeenkoms aanbied, met drie van die sewe rekords wat Boishaaiers self laat spat het. Die twee o.15 spoedvrate van HJS, Tiaan Mouton en Kurtley du Plessis, het die Uitnodigingsbyeenkoms se rekordboeke herskryf in die seuns o.15 300m hekkies (41,1 sekondes) en seuns o.15 200m (22,9 sekondes) onderskeidelik. Van dié twee naellopers gaan daar nog baie gehoor word. HJS se seuns o.14 4x100m aflosspan het self hul name in die rekordboeke geplant met ’n tyd van 47,5 sekondes. Dylon Fairbridge van Paarl Gim het die seuns 0.14 90m hekkiesrekord oortref met ’n tyd van 12,6 sekondes, terwyl Brynn-Peter Kemp van Paul Roos die seuns o.19 gewigstootrekord gebreek het met ’n afstand van 16,15m. Hoër Meisieskool Paarl het hul teenwoordigheid ook laat geld met Aletta Swart (meisies o.19 gewigstoot met 10,73m) en Marise Malherbe (meisies o.19 800m in 2:15,1 sekondes) wat die rekords in hul verskeie items laat spat het. Die Larrie blits, Melissa Hewitt, het, soos altyd, soos weerlig genael om die meisies o.19-rekord in die 100m-item te ewenaar met ’n tyd van 12,1 sekondes. * Twaalf interhuisrekords, waarvan drie aflos-rekords is, is opgestel tydens HJS se interhuis-atletiekkampioenskappe wat onlangs op Brugstraat aangebied is, met Imhoff wat vir die sestiende agtereenvolgende jaar as die wenners gekroon is. Kurtley du Plessis (Berlyn, 100m in 11,2 sekondes; 200m in 23,1 sekondes; 400m in 52,5 sekondes), Tiaan Mouton (Imhoff, 300m hekkies in 42,4 sekondes), Neil Maritz (Imhoff, 100m hekkies in 14,1 sekondes), Kobus Putter (Imhoff, hoogspring 1,81m), Carel van Eeden (Imhoff, hoogspring 1,90m), Lionel Abrahams (Imhoff, verspring 6,60m) en Renaldo Frechou (hamergooi, 52,06m) het rekords verbeter.
More
News
|