Paarl-Oos mors met Bergrivier
2009-02-19
DIE eerste krieketspanne van GMT Paarl-Oos en Bergrivier was Saterdag in aksie op New Orleans se krieketvelde, met goeie boul- en veldwerk wat uiteindelik aan die Paarliete ’n sewe-paaltjie oorwinning besorg het. Bergrivier het eerste gekolf en kon teen Paarl-Oos se sterk boulaanval slegs 65 lopies opstapel voor al hul paaltjies platgetrek is. Die enigste spelers van Bergrivier wat noemenswaardige tellings behaal het, was Y Ebrahim (16, 1x4) en Fabian Arendse (19, 3x4). Die man wat die meeste verantwoordelikheid moet aanvaar vir die amok wat Paarl-Oos met die bal gesaai het, is Waylin September. September het niks minder nie as sewe paaltjies vir slegs agt lopies platgetrek, in sewe boulbeurte. Paarl-Oos word toe ingestuur met die taak voor oë om 66 lopies aan te teken. Met Garth Lewis aan die voorpunt, behaal Paarl-Oos dié lopietal moeiteloos, in slegs 12,4 boulbeurte. Lewis het 24 lopies gemoker wat twee viere ingesluit het. Eerskomende Saterdag speel Paarl-Oos se eerste span tuis teen Young Peoples. Young Peoples II takel Paarl-Oos II op Daljosafat. * Paarl-Oos Krieketklub bied op 7 Maart ’n karaoke aan by New Orleans se klubhuis.
More
News
|