Young Peoples weer baas in derby
2009-02-19
DIE eerste krieketspan van Young Peoples het Saterdag weer vir Paarl Krieketklub ore aangesit deur met nege lopies te seëvier op Daljosafat. Peoples het eerste gekolf en 186/9 behaal in 45 boulbeurte, danksy goeie beurte deur Wade October (41, 4x4) en Dominic Daniels (30, 4x4). Op 107/6 na 38bb het dinge maar stadig verloop vir die tuisspan, maar uiteindelik was dit weereens Lorenzo Jacobs (45, 2x4 en 3x6) wat die totaal meer aansien kom gee het. Vir Paarl het die twee draai-boulers, Lynal Jansen (3/13 in 4bb) en Hein Adonis (2/32 in 7bb) sukses behaal vir die besoekers. Paarl het gaan kolf en van die begin af die lopies gejaag, maar goeie boul- en veldwerk deur die Tiere het daartoe gelei dat Paarl hul paaltjies op reëlmaat verloor het. Slegs Curtis Fourie (32, 2x4) kon enige weerstand bied met die kolf. Peoples se boulers het weer die druk goed hanteer, met veral Jarier Alexander (2/26 in 8bb) en Ryan Davids (0/16 in 9bb) wat skitterend vertoon het. Davids was ongelukkig om nie ’n paaltjie te kry nie. Hulle was goed bygestaan deur Charlton Daniels (2/35 in 7bb), Edwin Jacobs (2/15 in 6bb) en Lorenzo Jacobs (2/54 in 9bb). Peoples II het ook klaargespeel met die sterk span van Paarl II op die B-veld. Peoples het met ses paaltjies gewen. Paarl het 236/7 in hul toegelate 45 boulbeurte aangeteken, met Franco Marais (76, 7x4) aan die spits. Hy was goed ondersteun deur Courtley Pharoah (26, 2x4 en 1x6), Rudi Andrews (25, 3x4), Carlo Crotz (25, 3x4) en Darryl Hendriks (26, 2x4). Peoples se beurt het rampspoedig begin toe hulle hul eerste paaltjie verloor het met die telling op twee. Hierna het die lopies egter begin vloei. Pragbeurte deur Ashfaq Ahmed (58, 5x4 en 2x6), Lee-John Julies (62, 4x4) en Garren Fortuin (71*, 3x4 en 3x6) verseker die oorwinning vir Peoples met die telling op 237/4, met nog 10 balle oor. Peoples se derde-span het hul rieme styfgeloop in ’n wegwedstryd teen Northdene. Peoples het met 62 lopies verloor. Peoples moes 232 lopies vir ’n oorwinning aanteken, maar kon slegs 169 opstapel. James de Wet (25, 2x4) en Keenan Pick (26, 2x4) het goed gekolf vir Peoples. Vroeër die dag het Audin Carolissen (4/40 in 10bb) goed gevaar met die bal. Saterdag speel Peoples I weg teen Paarl-Oos. Die tweede span speel tuis teen Paarl-Oos II en die derde-span speel in hul laaste wedstryd, ook tuis, teen Oostelikes III. * Young Peoples hou sy algemene jaarvergadering op Donderdag 12 Maart om 19:30 by die klubhuis. Alle lede, spelers en belangstellendes welkom.
More
News
|