Burton die Blou Bul
2009-02-19
Jaco van Wyk
WIE is daardie flinkvoetige kêrel wat tydens Saterdag se Super 14-wedstryd, teen die Reds op Loftus Versveld, die helfte van die veld genael het om sy eerste drie vir die Vodacom Bulls te druk? Daardie kêrel is niemand anders nie as die jong Paarliet, Burton Francis, wat Saterdag, toe skaars ’n minuut op die veld teen die manne van Australië, die bal in sy eie halfgebied gekry het en ore platgetrek het om sy span se bonuspunt drie te druk. Dié drie van die belowende, jong plaasvervanger-losskakel was uiteindelik die finale spyker in die Queenslanders se doodskis. Die Bulls het met 33-20 geseëvier. Francis speel sedert 2006 sy rugby in die Noorde van Suid-Afrika nadat hy ’n kontrak losgeslaan het met die voormalige Super14-kampioene. Francis het in 2004 gematrikuleer aan Klein Nederburg Sekondêr en daardie jaar die Boland se Akademiespan gehaal. Na sy goeie spel vir die Akademiespan het Francis ’n aanbod van die Universiteit van Potchefstroom gekry om in 2005 aan te sluit by Pukke se rugby-akademie. Weens sy uitblinkerspel daar is hy vinnig opgeraap deur die Bulle waar hy vir die o.19 en o.21-spanne uitgedraf het. Verlede jaar was egter Francis se deurbraakjaar. Die skerpskut-stelskopper het ’n enorme aandeel gehad in die Bulle se verowering van die Vodacombeker-titel - hy het ses strafskoppe en ’n doelskop in die finaal behaal, asook ’n drie gemaak tydens sy span se 25-21 oorwinning oor die Cheetahs. Te danke aan sy puik spel vanuit die generaal-posisie is Francis opgeroep om die Bulls in die Super14-reeks, asook in die Curriebeker-kompetisie, te verteenwoordig. In beide kompetisies was hy die tweede keuse op losskakel, met Morné Steyn wat tans die eerste keuse is vir die donkerbloutruie. Die kersie op 2008 se koek was egter toe Francis, tydens SA Rugby se geselligheid in Midrand, beloon is met die toekenning van Vodacombeker Speler van die Jaar. Oor Saterdag se drie erken Francis dat hy groot geskrik het toe hy die bal so skielik in spasie gekry het. “Ek het dit glad nie verwag nie, maar dit was darem ’n lekker gevoel om die Bulle se bonuspunt-drie te druk.” Volgens Francis is hy nog baie gelukkig by die Bulle en het hy nog geen planne om terug Kaap toe te kom nie. “Hulle behandel my goed by die Bulle en ek geniet my rugby. Dit sal natuurlik nog lekkerder wees as ek bietjie meer speelkans kan kry.”
More
News
|