Gerugte van cholera-uitbraak onsmaaklik
2009-02-19
PAARLIETE was verlede week behoorlik op hol toe ’n gerug dat ’n cholera-pandemie op hande was soos ’n veldbrand deur die dorp versprei het. Die wortel van hierdie kwaad was ’n e-pos wat die ronde gedoen het dat die Kaapse en Paarl hospitale oorvol ismet cholera gevalle. Dit waarsku ook dat kraanwater nie gedrink moet word nie. Hierdie beweringe kan egter hoegenaamd nie gestaaf word nie. Die Paarl Hospitaal is oorval met oproepe hieroor, maar hiér is nie ’n enkele geval van hierdie siekte nie. Volgens munisipale woordvoerder Anthony Sauls, is alle beweringe in dié kwaadwillige e-pos onwaar. “Ek het met die owerhede by beide Paarl Hospitaal en MediClinic gepraat, en daar is bevestig dat geen gevalle van cholera in die Paarl aangemeld is nie. Ons water se gehalte word weekliks getoets vir sy e-coli vlak, en die huidige lesings is negatief. “Twee gevalle van cholera is wel onlangs in Kaapstad aangemeld, en die persone is vanaf die noorde van die land afkomstig.” Die histerie wat tans die ronde doen is te danke aan die cholera-pandemie in Zimbabwe, en vlugtelinge uit dié land wat hulself hiér vestig. Cholera word veroorsaak deur ’n bakterie wat in besoedelde water en voedsel gevind word. Dit is afkomstig van menslike onlasting wat in water beland weens swak sanitasie. Dit veroorsaak waterige diaree wat lei tot ontwatering. Cholera kan nie oorgedra word van een mens na die ander nie, maar versprei vinnig in veral landelike gebiede indien mense leef sonder veilige drinkwater en swak toiletgeriewe. Alhoewel die meeste mense van cholera herstel, kan dit dodelik wees onder kinders en bejaardes. * Rumours of cholera spreading in the valley are unfounded. Tap water is safe to drink.
More
News
|