Drie baljaar met kaarte
2009-02-19
Lise Beyers
DRIE mans is Dinsdagmiddag in hegtenis geneem vir kredietkaartbedrog, nadat hulle op ’n inkopietog van duisende rande in die Paarl gegaan het. Lede van Paarl polisie het inligting ontvang oor hierdie mans, wat na bewering weekliks in Lady Greystraat gesien word terwyl hulle soos ryk mense inkopies doen. Die polisie het hulle spoor gevolg en hulle is op heterdaad betrap terwyl hulle nog goedere wou aan koop. In hul besit is drie gesteelde kredietkaarte gevind waarmee hul al die inkopies betaal het. Die kredietkaarte is gebruik om onder andere duur drank, babadoeke, speelgoed, skryfbehoeftes en klere te koop. Fanian Lategan (30), Julian Williams (28) en ’n minderjarige, almal van Kaapstad, is in hegtenis geneem in verband met die voorval. Onlangs is twee Kapenaars ook in die Paarl in hegtenis geneem vir kredietkaartbedrog. In hul besit was talle gesteelde kredietkaarte ’n Woordvoerder van die polisie het gesê dat die verdagtes by elke winkel net minder as R500 betaal het, sodat die gesteelde kaarte nie opgelet word nie. Sy het die publiek vir hul oplettendheid bedank wat bygedra het tot die inhegtenisname. * Fraudsters went on a shopping spree with stolen credit cards in Paarl this week.
More
News
|