Agri Cape Week in Paarl
2009-02-19
DIE beplanning rondom die Agri Cape Week wat vanaf 16 tot 18 April by die Hoër Landbouskool Boland in die Agter-Paarl plaasvind, loop goed en daar heers groot belangstelling in hierdie landbougeleentheid met sy fokus op die wingerd-, vrugte-, en groentebedrywe in die Wes-Kaap. Hierdie landbouweek bied ’n program waarvan elke landbouprodusent in genoemde bedrywe kennis behoort te neem. Die afleiding uit die verskeie items op die program is dat hier beslis waarde toegevoeg gaan word. Die program skop af met ’n openingsgeleentheid met top sprekers wat vars inligting sal deurgee oor die landbou en die toekoms daarvan. Agri Wes-Kaap se streekskongres vir die Paarl-streek word tydens die program van die Agri Cape Week op die ekspo-terrein aangebied. Ander aktiwiteite wat gerig is op landbouprodusente sluit onder andere ’n Inligtingsdag vir produsente in, aangebied deur VinPro. ’n Spesiale landbou-ekonomiese aanbieding vir produsente in die uitvoermarkte spog met top sprekers soos Cees Bruggemans (Hoofekonoom van FNB), Anton Rabe, HUB van die Sagtervrugteprodusentetrust) en prof Nick Vink van die Universiteit van Stellenbosch. Daar is ook ’n besproeiingswerkswinkel in samewerking met Netafim en ’n plaaswerker-inligtingswerkswinkel in samewerking met SAPWA. ’n Konferensie vir opkomende boere met dr Tobias Doyer, Hoof van Landbou by Santam, as spreker, en ’n werkswinkel vir groenteboere in samewerking met die Kaapse Mark word ook aangebied. Ondersteunend tot die indaba-program wat plaasvind, sal top uitstallers wat hoofsaaklik die landbou bedien, besoek kan word. Demonstrasies van grondverskuiwingsmasjinerie en landbou-implemente sal ook bydra tot ’n geleentheid wat nie misgeloop behoort te word nie. Vir die vroue word interessante programme ondersteun met leefstyl-uitstallings beplan. Saterdag 18 April word top kompeterende rugbywedstryde op die terrein aangebied as deel van die program. Oud-skoliere van Boland Landbouskool mag hierdie nie mis nie. Vir navrae in verband met die Agri Cape Week, skakel gerus Agri Mega se kantore by 028-424-2890 of 021-863-0397 of besoek die webtuiste by www.agrimega.co.za.
More
News
|