Welsynorganisasie lewer 'n omvattende diens
2009-02-19
Liezl Dyson
“SKEP lig en vastigheid in die lewens van mense.” Dit is die visie van Badisa, die VGK se barmhartigheidsorganisasie. Dié welsynorganisasie lewer ’n omvattende diens aan mense in nood. In die Paarl is hulle verantwoordelik vir vier van die ses armoedigste woongebiede in Paarl-Oos. Van die tendense wat die maatskaplike werkers teëkom, is oorbewoning, werkloosheid, alkohol- en dwelmmisbruik, kinderverlating en gesinsdisintegrasie, kinderverwaarlosing, kindermishandeling, seksuele molestering en gesinsgeweld. Badisa het twee maatskaplike werkers wat in die gemeenskap werk. Een van Badisa se doelstellings is om ouerleiding te gee waar ouers ouerskapvaardighede aangeleer word. Hul werk sluit in ondersoeke na molestering van kinders, werf en oplei van pleegouerpare en gesinsherenigingsdienste. Hulle het daarin geslaag om die afgelope jaar 19 kinders wat uit hul ouers se sorg weggeneem is, met die gesin te herenig. Volgens Zenobia November, maatskaplike werker, ervaar hulle dat die gemeenskap waarin hulle werk te afhanklik van die welsynstelsel is. “Ouers neem nie verantwoordelikheid vir hul dade nie en baie mense weet nie hoe pleegsorg werk nie. “Hulle verstaan nie dat ’n kind nie net sommer van hul ouers weggeneem kan word nie of dat ’n ouer nie net sy kind weg kan gee nie,” het November gesê. Daar is wel gevalle waar Badisa ’n kind of kinders uit hul ouers of grootouers se sorg moet neem. “Dit is slegs in noodsaaklike gevalle wat die kind in pleegsorg geplaas word. “Indien die kind geen ouers het nie, wees gelaat is, verwaarloos word, die kind seksueel of fisies benadeel word of die kind erge gedragsprobleme toon en die ouers nie die kind kan hanteer nie, moet ons dadelik in gryp,” het November gesê. Die afgelope jaar was daar reeds ’n beduidende afname in die getal Kinderhofondersoeke weens kinderverwaarlosing en mishandeling in vergelyking met die ooreenstemmende periode in die vorige jaar. ’n Totaal van 51 Kinderhofondersoeke is in dié tydperk gefinaliseer wat ’n 11% afname toon in teenstelling met dié van die vorige verslagjaar. Hoërisiko-groepe soos slagoffers van seksuele molestering, kinderverwaarlosing en gesinsgeweld, het ook in dié tydperk intensiewe terapeutiese aandag ontvang. Weens die hoofsaaklik arm gemeenskappe wat Badisa bedien, behels 64% van hul werklading armoedeverligting en die beveiliging en bemagtiging van vroue en kinders. Volgens ds Diamon de Vries, die voorsitter van die beheerraad van Badisa Paarl, sou hierdie dienste nie so suksesvol kon wees sonder die effektiewe vennootskappe met verskeie rolspelers asook bydraes en skenkings van donateurs nie. Badisa se netwerk van ondersteuningsdienste word gevestig rondom die gesin en nie net die kinderkliënt nie. Sodoende word daar gepoog om individue, gesinne en die gemeenskap te bemagtig tot selfhelp en onafhanklike funksionering binne ’n gesonde gemeenskap. Vir verdere inligting oor Badisa en hul dienste, kontak Wimo Engelbrecht by 021-862-4606 of e-pos hom by badisapaarlwimo @telkomsa.net.
More
News
|