EK wil graag my ervaring van swak diens met die publiek deel by die Departement van Mannekrag in Bredastraat, Paarl.
Op 5 Februarie het ek aansoek gedoen vir my kraamverlofgeld nadat my baba gebore is 17 Januarie.
Op 17 Februarie het ek hulle geskakel om uit te vind hoe ver my eis gevorder het. Mannekrag gee vir jou telefoonnommers om te skakel.
Na twee ure se telefoonoproepe is die telefoon net twee keer opgetel en ek is gevra om aan te hou. Niemand het egter geantwoord nie en die telefoon is neergesit aan die Departement van Mannekrag se kant.
Op 18 Februarie het ek weer probeer vanaf 07:30 en presies dieselfde het met my gebeur as die vorige dag. Die telefoon is darem geantwoord, om 09:16, deur mnr Mpundo.
Ek het aan hom verduidelik wat aangaan en hy het my weer gevra om aan te hou en weereens is die telefoon neergesit aan die Departement van Mannekrag se kant.
Ek het om 09:24 weer geskakel en die telefoon is weer geantwoord deur mnr Mpundo.
Nadat ek hom gesê het dat ek van plan is om ’n brief aan die Paarl Post te stuur het hy my deurgeskakel na ’n dame met die naam van Eunice en sy het my toe gehelp.
Moet ons nou eers dreigemente uitvoer voordat ons diens kan kry?
Ek wil graag weet hoekom is daar niemand wat die telefoon optel nie? Hoekom is daar niemand wat vir my en hoeveel ander mense kan help met navrae nie? Die verkiesing is op hande en vir wie moet ek stem as dit so gaan?
Dit is uiters swak diens.
Ek weet regtig nie waar ek my kruisie moet trek hierdie verkiesing nie, en ek weet ook nie of ek ’n kruisie wil trek nie.
Sterkte aan al die moeders en werklose mense wat aan die Departement van Mannekrag se lot oorgelaat is vir ’n geldjie of om lewensbelangrike informasie te kry.