KAN iemand asseblief die verkeersbeamptes wat soggens die verkeersligte in Agrimark (WPK)-omgewing van die Paarl hanteer, verwyder? Hulle doen meer skade as goed.
Hope aandag word gegee aan die verkeer wat van die Hoofstraat en Spilo se kant afkom, maar feitlik geen aandag aan die verkeer wat van Langstraat en Westhovenstraat verby Meadow Feeds kom nie.
Soveel so, dat ek soms op die brug oor die Bergrivier in Langstraat reeds stilstaan en wag om eendag voor uit te kom.
My werksroete het my normaalweg tien minute geneem, skoolverkeer of nie.
Deesdae neem dit my enigiets tussen 20 minute en ’n halfuur om by die werk te kom, te danke aan verkeersbeamptes wat nie besef hoe die verkeer in Westhovenstraat ophoop nie.
Sodra die verkeersbeampte sien dat daar nie meer verkeer na regs draai in die rigting van Hoofstraat nie, verander die ligte weer na rooi en diegene wat links wil draai in die rigting van New Orleans en Wellington sit vas in ’n verkeersknoop wat skrik vir niks.
Dit raak nou so erg, talle mense draai soms in Westhovenstraat om en sukkel terug na Hoofstraat om via Lady Greystraat by die werk te kom - ’n lang ompad maar ten minste word daar nie ingemeng by die verkeersligte nie.
Hou net die verkeersbeamptes daar weg en laat die verkeersligte hul ding doen, dis ten minste voorspelbaar. K.A.G. Nel ’n Woordvoerder van die Munisipaliteit reageer: Die verkeersvloei in Oos-Boschstraat is van deurslaggewende belang - dit is waarop die betrokke beampte hom gevolglik toespits. Beamptes word opgelei en is inderdaad vertroud met die kruisings waar hulle diens doen. Indien daar enige probleme sou ontstaan, word die proses hersien en aangepas.