VRYDAG was daar ‘n voorval van ernstige bedrog by ons werk en my werkgewer het my gevra om die polisie te kontak om ons by te staan asook hulp te vra.
Ek het die polisiekantoor geskakel om 13:00 in die middag. Die telefoon het seker 2 minute gelui voordat iemand geantwoord het. Die dame wat die telefoon (uiteindelik) geantwoord het, het nadat ek gesê het ek benodig iemand om oor bedrog te praat net gesê niemand is beskikbaar nie. Almal is of met ete of van diens af.
Nadat ek gesê het dis onmoontlik dat die hele polisiestasie met ete/van diens af is, is ek vier maal deurgesit waarna die telefoon net gelui en gelui het.
Ek het besluit om aan te hou en nie die foon neer te sit nie – uiteindelik het ’n dame (wie se naam ek het) geantwoord en toe ek aandring dat ek nou met iemand moet praat het die persoon gesê ek moet aanhou.
Die telefoon is op die tafel neergesit ensy het vir ‘n manspersoon gesê: “Praat jy met die simpel vrou”, waarop die manspersoon gesê het: “Nee, wat weet ek van bedrog – praat jy met haar.”
Nadat hulle gestry het oor wie die oproep moet neem, het die manspersoon geantwoord. Ek het sy naam en die dame se naam gevra en gesê ek het alles gehoor wat hulle gesê het, waarop hy gesê het hy weet nie waarvan ek praat nie.
Via my ander kollega wat ’n kennis in die polisie het, het ons gelukkig by iemand uitgekom (op die ander telefoonlyn) wat bereid was om te luister.
Ek het die oproep beëindig om die ander oproep te neem. ’n Patrollie is op daardie persoon se aandrang na ons uitgestuur.
Ek het vandag, Maandag, seker al vyf keer gebel om met stasiebevelvoerder Mvoto te praat, maar volgens almal na wie ek deurgesit word, is sy in vergaderings.
Aan die einde van die dag het ’n superintendent Braaff my teruggebel en gesê ek moet hom vertel wat my klagte is. Nadat ek my lang storie aan hom verduidelik het, was sy reaksie dat ek seker nie die regte bewoording gebruik het nie en daarom is ek nie gehelp nie.
Ek het hom gevra hoe ek as leek “die regte bewoording” moet ken – ek het net gevra om met iemand te praat oor ’n bedrogsaak.
Toe ek sien ek gaan nie verder kom met my klagte nie, vra ek hom oor die twee persone wat my “’n simpel vrou” genoem het – was sy antwoord eenvoudig ek is welkom om ’n klag te kom lê – dit sal intern ondersoek word, “maar dit is baie moeilik, want dit is hulle woord teen myne”.
Ek het die gesprek beëindig, wetend dat ek nêrens gaan kom nie. Die lank en die kort is – niemand wou my help nie.
Sal dit enigsins help om te kla oor die polisie se diens of gaan ek my net te pletter loop teen ’n muur?Gepla
Die Paarl polisie stasiebevelvoerder, snr/supt Thandi Mvoto, reageer: Ek betreur hierdie voorval. Die polisie is toegewy om die gemeenskap met waardigheid en respek te dien. Hierdie saak word ondersoek, sowel as die klaer se bedrogsaak. Enige klagtes oor lede van die Paarl polisie kan direk oorgedra word aan my 082-374-4929, of kapt Louise du Plessis by 082-850-9614.