Hillcrest bied suksesvolle junior rugbydag aan
2009-02-26
TE oordeel aan die groot aantal geesdriftige kinders wat opgedaag het om met hul eweknieë van die Kaap, Islamia College, kragte te meet, is dit duidelik dat die rugby-jeug in Wellington kerngesond is. Daar is selfs trane gestort om net langer op die veld te bly. Die groot skare het hulle behoorlik geniet en talent was volop. Die span van die dag was die o.16 manne van die Wellington Jeugsentrum. By hulle wemel dit van die talent. Die organiseerders van die toernooi, Mario Williams en Howard Heugh, verdien beslis ’n pluimpie vir dít wat hulle vir junior rugby doen. Die o.19 span van Hillcrest het ook hul wedstryd gewen en is na afloop van die toernooi uitgenooi na die groot feesvieringe te Vygieskraal op Sondag 29 Maart. Komende Saterdag speel Hillcrest se seniors hul eerste vriendskaplike wedstryd teen Eerste Rivier te Pelikaan Park. Die hoofwedstryd begin om 17:30. Alle o.19 spelers word uitgenooi om by Pelikaanpark aan te meld. Ná die wedstryd gaan almal na Club Niveau om die seer lywe reg te skud en ook om mekaar beter te leer ken. Die span van Wellington wil beslis verbeter op hul derde plek van verlede seisoen en wil ook graag verby die kwarteindronde kom. Die span het sy kernspelers van verlede seisoen behou en ook talle nuwelinge bygekry. Hillcrest se span gaan vanjaar deur Francois Booysen, Gevin Morris, Davey Wellman en Danie Roman afgerig word.
More
News
|