Basson en Kriel vat voor by Mykonos
2009-02-26
DIE vierde streekwedren van die Westelike Provinsie opblaasboot-renkampioenskap het Saterdagoggend afgeskop in perfekte weersomstandighede by Klub Mykonos. Die span van André le Roux en Juan Mynhardt in die Le Roux Boerdery boot het vir die eerste keer in die Standaardklas meegeding. Na afloop van die eerste dag het hulle uitstekend gevaar om ’n vierde plek in die klas los te slaan. Die span van Steyn Basson en Jan Kriel in die Bata Industrials boot het uitstekend gevaar deur drie eerste plekke los te slaan in die Blueprint klas. Dag twee van die byeenkoms het baie van die spanne onkant gevang met die weer wat drasties verander het. Windsnelhede van oor die 50km/h het meer as 15 bote omgedop. In die eerste ren van die standaardklas het Nico van Geems uit die boot geval en is gestamp deur ’n ander boot. Aanvanklik het dit ernstig gelyk, maar vinnige optrede van Netcare het gehelp om seker te maak hy is nie ernstig beseer nie. Later die dag het sy kopman ná ’n ernstige ongeluk in die hospitaal beland. Die span van Le Roux Boerdery het uitstekend gevaar met twee derde plekke, maar het ongelukkig in die finaal hulle boot omgegooi en moes toe tevrede wees met ’n vyfde plek vir die dag. Basson en Kriel het weer al die ander manne laat les opsê deur die dag weer al die rond-es en finaal te wen. Die onderskeie wenners was Eugene Vorster en Kobus Taljaard (Wild Africa Cream, P750 Standaardklas), Steyn Basson en Jan Kriel (BATA Industrials, P750 Blueprintklas) en Johan Lodewyks en Bertie van Huyssteen (Donadio Planthire, P750 gemodifiseerde klas) Die volgende resies vir die spanne is die komende naweek in Witbank tydens die tweede nasionale byeenkoms.
More
News
|